Charmaine Laubscher, oud-onderburgemeester van Saldanhabaai.
Charmaine Laubscher, oud-onderburgemeester van Saldanhabaai.


WESKUS – Die onverwagse bedanking van Charmaine Laubscher, die Saldanhabaai Munisipaliteit (SBM) se onder-burgemeester, uit die Demokratiese Alliansie (DA) en haar aansluiting by die Patriotic Alliance (PA), het skokgolwe deur die Weskus gestuur. Sy was vir ‘n kort tydperk die waarnemende burgemeester ná die ewe-onverwagse uittrede van die SBM se burgemeester, André Truter. Truter werk nou in die private sektor.

Laubscher se besluit om haar by die PA aan te sluit, het erge kritiek en openbare debatvoering op sosiale media ontlok en sy is onder meer uitgekryt as ‘n verraaier wat haar politieke party en inwoners in die steek gelaat het.

In ‘n mediaverklaring wat Laubscher vanoggend (Maandag 23 Februarie) uitgereik het, sê sy dat sy vir etlike dae stilgebly het terwyl haar naam in die openbaar aangeval is.

“Ek is bewus daarvan dat my besluit baie inwoners geskok het. Party was teleurgesteld en verward. Party het seergemaak en verraai gevoel. Ek respekteer dit ten volle. Ek neem julle vertroue nie ligtelik op nie. Vandag  praat ek – duidelik en volledig,” lui haar verklaring.

Gayton Mackenzie, PA-leier (voor) klink 'n glasie saam met Charmaine Laubscher (links) en Jacques van Rensburg.
Gayton Mackenzie, PA-leier (voor) klink ‘n glasie saam met Charmaine Laubscher (links) en Jacques van Rensburg.

In ‘n mediaverklaring wat Laubscher vanoggend (Maandag 23 Februarie) uitgereik het, sê sy dat sy vir etlike dae stilgebly het terwyl haar naam in die openbaar aangeval is.

“Ek is bewus daarvan dat my besluit baie inwoners geskok het. Party was teleurgesteld en verward. Party het seergemaak en verraai gevoel. Ek respekteer dit ten volle. Ek neem julle vertroue nie ligtelik op nie. Vandag  praat ek – duidelik en volledig,” lui haar verklaring.

Volgens Laubscher was haar besluit om te bedank en by die PA aan te sluit nie impulsief nie,  maar die eindpunt van volgehoue interne onstabiliteit, politieke manuevering en ‘n verbrokkeling van kollektiewe regering.
“Dit het dit uiteindelik vir my onmoontlik gemaak om doeltreffend, veilig en met waardigheid binne die DA-struktuur voort te dien. In 2025 is daar by twee afsonderlike geleenthede, deur betrokkenheid met opposisiepartye, pogings aangewend om my as adjunk-burgemeester, te verwyder. Hierdie pogings was nie gebasseer op prestasiefoute nie. Daar was geen bevindings van wangedrag nie. Daar was geen regeringsineenstorting wat aan my toegeskryf is nie, en ek is nooit geraadpleeg oor beweerde prestasiekwessies nie. Dit was politieke rekenkunde,” sê sy.

Volgens Laubscher het twee interne faksies hulle begin posisioneer rondom opvolging tydens haar onlangse tydperk as waarnemende uitvoerende burgemeester. “Elke faksie het hul voorkeur-burgemeesterskandidate gehad. Besprekings het nie gefokus op kontinuïteit of prestasie nie. Dit het oor belyning en getalle gegaan.”

Laubscher sê haar posisie as onder-burgemeester het in dié tydperk ‘n onderhandelingsinstrument geword as hefboom om opposisieguns te verkry en die DA se getalle in die raad te versterk. “Openbare amp behoort nooit tot onderhandelings-geldeenheid verlaag te word nie.”

Volgens die voormalige onder-burgemeester is daar die dag voor haar bedanking uit die DA aan haar gesê dat almal haar  gebruik om die posisie te kry wat hulle wil hê, waarna sy opsy geskop sal word.
“Daardie woorde was ontnugterend. Dit het die werksomgewing waarin ek was, duidelik gemaak. Dit het my tot die werklikheid geruk. Leierskap behoort te bou. Dit behoort te mentor. Dit behoort institusionele integriteit te beskerm. Dit behoort nie mense as trappies te gebruik nie. Toe ek die rol van waarnemende uitvoerende burgemeester aanvaar het, het ek dit in goeie trou en in belang van stabiliteit gedoen. Gedurende daardie kritieke oorgangstydperk het ek egter geen gestruktureerde uitreik, leiding of institusionele ondersteuning van DA-leierskap ontvang nie. Om uitvoerende gesag in isolasie te dra terwyl interne faksies herposisioneer, is nie volhoubare regering nie, ” sê Laubscher in haar mediaverklaring.

Volgens haar is energie wat aan dienslewering, regeringstoesig en gemeenskapsontwikkeling bestee moes word, mettertyd opgeslurp deur faksionele belyning en interne posisionering. “Vroeg in Februarie 2026 het ek ernstig besin oor of ek in daardie omgewing kon voortgaan. Ná deeglike oorweging het ek besluit om te bedank en daarna die PA gekontak. Daar was geen vooraf-onderhandelinge nie en my besluit is onafhanklik en sonder aansporing gemaak. Dit was ‘n besluit gegrond op beginsel en professionele selfrespek.”

Laubscher sê sy het by die PA aangesluit as werknemer en beoog nie om in die afsienbare toekoms vir enige politieke pos as raadslid te staan nie. “Ek beweeg vorentoe met helderheid en selfvertroue. Sonder bitterheid, sonder vrees en sonder berou. Ek bly Charmaine, die persoon wat tot die beste van haar vermoë gedien het. Dit is nie die T-hemp wat die mense gedien en opofferings gemaak het  nie. Ek het die gebou verlaat, nie die mense nie.” 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article