BEK
Byna 50 000 diere is reeds in die Wes-Kaap teen bek- en klouseer ingeënt. Foto: Argief

WES-KAAP – Byna 50 000 diere is reeds in die Wes-Kaap teen bek- en klouseer (BKS) ingeënt namate die provinsie se inentingsveldtog versnel en owerhede toenemend op brandpuntgebiede, waar gevalle aangemeld is, fokus.

Agri Wes-Kaap en die Rooivleis-produsente-organisasie in die Wes-Kaap het dié terugvoer gegee ná ‘n vergadering wat Maandag (9 Maart) gehou is. Volgens ‘n verklaring deur Agri Wes-Kaap is die afgelope week goeie vordering met die inentingsprogram en die monitering van moontlike gevalle gemaak.

Altesaam 29 private veeartse help tans met die inentingsveldtog in samewerking met die Wes-Kaapse departement van landbou se veeartsenydienste. Tot dusver is 47 700 diere reeds ingeënt.

Die departement het reeds 60 000 entstowwe ontvang, met nog 100 000 entstowwe wat verwag word om die proses verder te ondersteun. Die meeste van die entstowwe word tans in geïdentifiseerde brandpuntgebiede gebruik.

In die George-omgewing is tans ses bevestigde BKS-positiewe plase, met vyf verdagte plase waar toetsuitslae nog uitstaande is. Tot dusver is 114 plase in die gebied deur veeartse besoek, inentings is op 81 plase gedoen en 13 493 diere is ingeënt.

In die Weskus is een positiewe geval in die Kalbaskraal-omgewing buite Malmesbury aangemeld asook twee verdagte plase binne die 10 km-radius en een plaas wat buite die radius val. ’n Nuwe kwarantyngebied is ingestel en vee op alle betrokke plase is reeds ingeënt – ongeveer 17 000 diere op 14 plase. Nege beheerpunte is rondom die kwarantyngebied ingestel.

LEES: Positiewe geval van bek-en-klouseer buite Malmesbury bevestig

In Kaapstad is 91 beeste die afgelope week ingeënt. Boerbokke in die Philippi-gebied, wat saam met besmette beeste in ’n kraal was, is ook ingeënt.

In die Kaapse Wynlande gaan die inentingsveldtog in die Boland voort. Vee in Stellenbosch is reeds ingeënt en die inentingsproses is tans in die Klapmuts-gebied aan die gang.

Die Overberg en Sentraal-Karoo het vir nou geen bevestigde of verdagte gevalle nie. In hierdie gebiede fokus staatsveeartse op bewusmakingsveldtogte en opleiding om paraatheid te versterk.

Produsente word ernstig versoek om met streng biosekuriteitsmaatreëls op hul plase vol te hou. Produsente kan help om hul eie plase, hul omgewing en hul bure te beskerm deur waaksaam te bly, beweging te bestuur en mekaar ingelig te hou.

Agri Wes-Kaap het ook die departement van landbou, staats- en privaatveeartse, asook produsente en rolspelers in die bedryf vir hul samewerking en vinnige optrede bedank.

Volgens die organisasie bly samewerking en verantwoordelike optrede die sterkste hulpmiddel om die verdere verspreiding van bek- en klouseer te voorkom.

Paarl Post het na die Wes-Kaapse regering uitgereik vir kommentaar oor hoeveel inentings reeds in die Drakenstein-vallei toegedien is, wat ‘n brandpunt vir BKS is, asook waar vee binne die vallei ingeënt word en hoeveel positiewe BKS-gevalle in die vallei aangemeld is.

Hierdie inligting sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article