Alle vee-eienaars word versoek om volle samewerking te gee wanneer amptenare plase besoek om die moontlike voorkoms van bek-en-klouseer vas te stel.
Dit volg ná ‘n man van die Heilbron-omgewing in die Vrystaat in hegtenis geneem is ná hy amptenare wat sy kudde vir bek-en-klouseer wou inspekteer, toegang tot sy plaas geweier het. Volgens die publikasie Farmer’s Weekly is dié plaas in ‘n 10 kilometer-omtrek van ‘n ander eiendom waar die voorkoms van bek-en-klouseer onlangs bevestig is.
In reaksie hierop het sersant Josephine Rani, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, boere aangeraai om saam te werk wanneer sulke amptelike inspeksies gedoen word. Sy raai ook aan dat die amptenare se besonderhede by die betrokke departement bevestig kan word, eerder as om hulle bloot toegang te weier.
Die inhegtenisname is ingevolge die Wet op Dieresiektes (No.35 van 1984) gemaak, terwyl artikel 16 daarvan gemagtigde amptenare uitgebreide magte gee om grond te betree, diere te inspekteer, monsters te neem, toepaslike eiendom in beslag te neem en bewegingsbeheer af te dwing om die verspreiding van beheerde siektes soos bek-en-klouseer te voorkom.
Versuim om aan siektebeheermaatreëls, bewegingsbeperkings of dokumentasievereistes te voldoen, kan tot boetes van tot R8 000 lei, of gevangenisstraf van tot twee jaar, of albei.
Bek-en-klouseer nou amptelik in Noord-Kaap
Intussen is die eerste geval van bek-en-klouseer amptelik in die Noord-Kaap aangemeld. Dit kom nadat die veeartsenykundige dienste van die departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming op 7 Februarie van ‘n vermeende geval op ‘n plaas naby Kuruman in die John Taolo Gaetsewe-distrik in kennis gestel is.
Die bevestiging van bek-en-klouseer lei tot onmiddellike beperkings op die beweging van vee, en het ‘n drastiese ontwrigtingby veilings en slagpale, en ‘n potensiële verlies aan uitvoermarkte. Dié hoogsaansteeklike virussiekte beïnvloed nie net boere nie, maar ook vervoermaatskappye, verwerkerkingaanlegte, verbruikers, en die breër landelike ekonomie.
In ‘n onlangse verklaring uitgereik deur die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, word gesê dat die eerste inentings teen bek-en-klouseer in die provinsie ontvang is. Dié besending word in die Kuruman-gebied afgelewer om geteikende uitbrekinginperking te ondersteun.
Die provinsiale regering versoek boere, vee-eienaars en gemeenskappe om onverwyld enige tekens van bek-en-klouseer aan te meld en om volledig saam met veeartsenykundige amptenare te werk tydens inspeksies, monsterneming en inentingsprosesse.
Vee-eienaars moet hul ook daarvan weerhou om beeste, skape, bokke of varke sonder toestemming van die departement se veeartsenykundige dienste te verskuif.
LEES OOK: Stray livestock intake paused over Foot-and-Mouth Disease risk
Om die verspreiding van die siekte te beperk, is dit nodig om streng biosekuriteitsmaatreëls in werking te stel, insluitend die beperking van besoekers en die ontsmetting van alle voertuie en toerusting.
Vermy oorsteek van grense met diere
Volgens agriorbit.com was daar twee weke gelede “reeds woelinge” toe gevalle van bek-en-klouseer in die Taung- en Magogong-omgewing bevestig is – dit lê op die grens tussen Noordwes en die Noord-Kaap.
Die voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Noord-Kaap, Brand du Toit, sê die organisasie het in samewerking met staatsdepartemente en ander bedryfsrolspelers, ’n geruime tyd gelede al gebeurlikheidsplanne vir soortgelyke gevalle opgestel.
Met die aanmelding van die eerste geval in Magogong het boere, en lede van die polisie en verkeersdepartement in die omgewing van Hartswater, Magogong en Warrenton onmiddellik opgetree.
Die dag ná die eerste aanmelding is ’n padblokkade in die Magogong-area (Noordwes) opgerig. Teen laatoggend is 12 vragmotors met diere wat die grens na die Noord-Kaap wou oorsteek, al voorgekeer. Die voertuie moes almal omdraai en kon nie die provinsie binnekom nie.

Die RPO Noord-Kaap het boere in die Hartswater-, Warrenton- en Kuruman-areas gevra om meer paraat te wees vir verdagte voertuie wat vee vervoer. Volgens Du Toit het die boere tot op hede baie goeie samewerking gegee.
Talle veilingshuise het ook hul samewerking aangedui en ingestem om veilings in die omgewing soos Vryburg, Hartswater, Warrenton en Kimberley tot verdere kennisgewing te staak.
Frederik van Zyl, ondervoorsitter van die RPO Noord-Kaap, sê stoetveilings kan voortgaan, mits die nodige biosekuriteitsmaatreëls nagekom word.
Verskeie landbou-unies in die Noord-Kaap het reeds gevra dat hul distriksgrense gesluit word om te verseker dat geen diere die gebiede binnekom nie. Du Toit sê dit is ondersoek, maar sal aansienlike polisiëring verg en die polisiediens in die Noord-Kaap se mannekrag is nie voldoende hiervoor nie.
Du Toit het ’n beroep op alle boere gedoen om die polisie te ondersteun deur op die uitkyk te wees vir verdagte voertuie wat moontlik vee kan vervoer. As almal saamwerk, sê hy, kan ’n verskil gemaak word.
Hy het voorts boere gewaarsku om nie in die strik trap om onwettige privaatentstowwe in te voer nie. Ongetoetste entstof kan ’n boer ernstige skade berokken en bloot die situasie vererger. Sy raad is om eerder saam met die staat te werk, nie haasspronge te maak nie, en die provinsie skoon te hou deur nie vee uit ander provinsies aan te koop of te verskuif nie.
Volgens agriorbit.com is die eerste bevestigde gevalle van bek-en-klouseer in Botswana aangemeld.
‘Beperk skade so ver as moontlik’
Intussen het dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van landbou, gesê ‘n onlangse meningsopname van die landbou-organisasie Saai onder boere toon ondubbelsinnig dat die departement van landbou se burokratiese-, sowel as politieke leierskap, die vertroue van boere verloor het.
Die peiling, met meer as 2 000 individuele deelnemers, toon dat 95% of meer van die respondente meen die reaksie oor die siekte was te stadig, dat die uitrol van entstof swak bestuur word en dat kundiges stilgemaak word. Die algemene stelling dat leierskap gefaal het, word deur 87% gesteun.
“Terwyl veeboere wag vir entstowwe wat teen die einde van Februarie uit Argentinië en Turkye behoort aan te kom, is dit reeds te laat vir die suksesvolle beëindiging van die krisis. Al wat oorbly, is om skade so ver as moontlik te beperk,” sê hy.
Die ministeriële taakspan wat in 2016 aangestel is om die moontlike impak van ‘n uitbreking van bek-en-klouseer te ondersoek, het die soort dringendheid aanbeveel wat eers sedert 2026 die departement se optrede begin kenmerk het.
Boshoff het verwys na ‘n mediaonderhoud met die minister van landbou, John Steenhuisen, wat verklaar het dat sy departement hom en die parlement mislei het oor hul vordering met vervaardiging van entstof en oor die vermoë om die bestryding van die siekte te bestuur.
“Die gevolg is ‘n siekte wat so laat as die begin van 2025 nog tot enkele streke beperk kon word, nou buite beheer is,” sê Boshoff.






You must be logged in to post a comment.