Liam Grant en Nico Taljaard werk aan die wisselaars tydens die werknaweek by Modensopark.
Liam Grant en Nico Taljaard werk aan die wisselaars tydens die werknaweek by Modensopark.

VIDEO: Klub ná byna 70 j. nog op die regte spoor

, ,

Die Bloemfontein Vereniging vir Model-ingenieurs vier volgende jaar sy 70ste bestaansjaar.

Steeds word daar hard gewerk om Modensopark in Bayswater, waar kinders Sondae op modeltreintjies kan ry, ‘n lekker bestemming vir oud en jonk te maak.

Klublede het onlangs ‘n werknaweek gehou waar aan die wisselaars gewerk is, tonnels skoongemaak is en van die klub se junior lede met verfkwaste ingespring en verfwerk gedoen het. Een van die ywerige klublede, Heinrich Lategan, sê daar is baie planne om die terrein te verbeter om dit vir besoekers ‘n lekker bestemming te maak.

Van die jeuglede wat kom help werk het by die terrein
Van die jeuglede wat kom help werk het by die terrein is van links Dylan Marais (17), Rinus Steenkamp (10), Ezelle Lategan (senior klublid) en Nina Stenkamp (7). FOTO: Lientjie Mentz

“Dit is ‘n heerlike uitstappie waar jy jou piekniekmandjie kan pak en die dag as gesin saamkuier. Ons gaan nuwe braaiplek vir die publiek bou en daar is nou Sondae skaal- model treintjies waarna besoekers in die klubhuis kan kom kyk.”

Treintjies waarop besoekers kan ry by Modensopark
Treintjies waarop besoekers kan ry by Modensopark. FOTO: Verskaf

Charl van Aswegen, die voorsitter van die klub, sê modeltreintjies is ‘n outydse stokperdjie wat kinders gou fassineer.

“Ritte is deur die jare steeds bekostigbaar. Ek onthou die dae toe dit net 20c vir kinders en 50c per volwassene gekos het. Ons het pannekoek verkoop om geld in te samel om die klubhuis te bou.”

Kom kyk na die skaalmodeltreintjies op spore by Modensopark se klubhuis Sondaemiddae. VIDEO: Verskaf

Die klub het nou sowat 30 lede en kinders word aangemoedig om by die klub aan te sluit. Die klub het vyf aktiewe enjins wat treintjies sleep waarop groot en klein kan ry. In die winter is Modensopark Sondae van 13:00 tot 16:00 oop. Elke treinrit kos net R10 per persoon.

Lees ook: Modeltreine by Modensopark fassineer oud en jonk.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article