Die Bloemfontein-messkou word op 6 en 7 November by die Ramblersklub aangebied.

Van staal tot funksionele kuns – die besonderse vakmanskap van handgemaakte messe sal binnekort in Bloemfontein die kollig steel wanneer mesmakers, versamelaars en entoesiaste byeenkom vir die Bloemfontein-messkou 2026.

Die Bloemfontein-mesmakersklub (BKMC) bevorder reeds sedert 1991 die kuns van handgemaakte messe. Die klub is destyds deur ’n klein groepie plaaslike mesmakers gestig wat hul passie en kennis met eendersdenkende vakmanne wou deel.

Meer as drie dekades later het die klub gegroei tot ongeveer 40–45 lede, insluitend drie lede van die Mesmakersgilde. Dit bied steeds ’n platform waar ervare vakmanne en opkomende mesmakers hul kennis kan deel, hul vaardighede kan ontwikkel en die tradisie van mesmaak vir toekomstige geslagte kan bewaar.

Een mesmaker wat sy werk by vanjaar se skou uitstal, is Mike Roode (83).

Mike Roode (83) by van die handgemaakte messe uit vlakvarktande
Mike Roode (83) by van die handgemaakte messe uit vlakvarktande en kameelperdbeen wat hy gemaak het. FOTO: Lientjie Mentz

Oom Mike het sy eerste mes al in 1960 gemaak. “As plaasseun het ‘n mens geleer om dinge met jou hande te doen. Ek het my eerste mes van soolringe gepak en gepoleer, maar dié mes het nooit regtig gewerk nie.”

LEES OOK: Bloem-messkou wys, met demonstrasies, kuns van handgemaakte pragstukke.

Later jare het hy geboer, en toe was daar nooit tyd nie. Hy boer nog deeltyds, maar geniet deesdae die tyd wat hy tot sy beskikking het om messe te maak. Hy gebruik meestal N690- vlekvrye staal vir die lemme; en veral vlakvarktande en kameelperdbeen vir die hewwe.

” ‘n Mens moet bietjie handvaardig wees om messe met die hand te maak,” meen hy.

Oom Mike ontwerp ook praktiese messe vir die kombuis en vir jag. Hy maak boonop messkedes van leer – pasgemaak vir elke mes wat hy maak.

Vir hierdie mesmakers gaan dit oor veel meer as om bloot iets met ’n skerp lem te vervaardig.

“Enigiemand kan ’n stuk staal neem, dit skerp maak en iets vervaardig wat kan sny,” verduidelik Jaco Mulder, voorsitter van die klub. “Handgemaakte messe is op ’n heel ander vlak. Ons wil iets skep wat nie net funksioneel is nie, maar terselfdertyd ook ’n kunswerk is.”

Jaco Mulder het ‘n video gemaak oor hoe hy messe maak.

Dit is juis waarom handgemaakte messe dikwels as funksionele kuns beskryf word.

Jaco verduidelik ’n handgemaakte mes van hoogstaande gehalte kombineer ontwerp, ingenieursvernuf, metallurgie en kunstige vaardigheid. “Mesmakers moet kennis dra van verskillende staalsoorte, hittebehandeling, slypwerk, polering, handvatselmateriale en lemgeometrie. Baie messe sluit ook gespesialiseerde leerwerk, gravering en dekoratiewe afwerkings in.

Besoekers aan die skou kan uitsien na ‘n verskeidenheid handgemaakte jag-, nuts-, sjef-, vastelem- en knipmesse; ook versamelstukke. Benewens uitstallings, is daar ‘n smeedemonstrasie en die Chef Knife Challenge. Die skou duur die Vrydag van 13:00 tot 19:00 en Saterdag van 09:00 tot 15:00.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article