BLOEMFONTEIN – ‘n Oudhede-veiling ten bate van Solidariteit Helpende Hand vind Dinsdag 20 Oktober om 18:00 by Trinity Afslaers in Pellissier plaas.
Felix Burri, die afslaer, sê daar sal sowat 140 items onder die hamer kom – almal met groot geskiedkundige ware.
LEES OOK: Kosbare oudhede opgeveil ten bate van Solidariteit Helpende Hand.
Burri sê daar is heelwat voorraad afkomstig van die Anglo-Boereoorlog, die Grensoorlog, Afrikana en ander items van oor Suid-Afrika heen wat onder die hamer gaan kom.
Die opbrengs van items wat aan die veiling geskenk is plus 15% van alle verkope sal oorgedra word aan die Helpende Hand Vrystaat streek- en studiefonds.
Ervaar geskiedenis op Onze Rust
Van die veilingspakette sluit in ‘n eksklusiewe reis deur die geskiedenis op Onze Rust vir 10 gaste. Stap terug in die geskiedenis met ‘n unieke en eksklusiewe ervaring op die ikoniese Onze Rust-landgoed, die geliefde tuiste van president M.T. Steyn en sy familie.
Hierdie besonderse dag word aangebied deur Collin Steyn, agterkleinseun van president M.T. Steyn, wat gaste op ‘n boeiende reis deur verskeie tydperke van Suid-Afrika se geskiedenis neem.
Die dag begin met ‘n ABO-wapendemonstrasie en swartkruitdemonstrasie, waarna gaste verder teruggevoer word deur die geskiedenis van die grensoorloë. Wapens, toerusting, slagvelde en die ervarings van soldate sal bespreek word, terwyl daar ook kennis gemaak word met ‘n soldaat se “rat pack” en die kuns van oorlewing in die veld.
Daarna verskuif die fokus na Suid-Afrikaners se betrokkenheid by die wêreldoorloë, insluitend ‘n besoek aan die Oosfrontmuseum waar die gebruik van tenks vergelyk sal word met die ervarings en taktiek in die Suid-Afrikaanse Grensoorlog.
Die geskiedenis van Onze Rust en president Steyn vorm egter die hart van hierdie ervaring. Gaste sal letterlik in die president se spore stap, deur sy huis beweeg, die legendariese kelder besoek en oor die terrein wandel waar geskiedenis afgespeel het. Op pad na die skietbaan word ‘n veld besoek waar daar tydens die Anglo-Boereoorlog ‘n skermutseling tussen Boer en Brit plaasgevind het.
Van die beroemde bloekombome wat deur president Steyn geplant is tot die legendariese Boom van Sameswering waar generaals De la Rey en Beyers eens vergader het, bied elke hoek van Onze Rust ‘n kykie op ‘n vervloë era.
Om hierdie uitsonderlike ervaring af te rond, ontvang elke gas ‘n klein, unieke aandenking om huis toe te neem saam met herinneringe en verhale wat nog vir jare oorvertel sal word.
Hierdie toer is spesiaal vir hierdie geleentheid saamgestel en is nie deel van die gewone besoekerservaring nie. Slegs 10 plekke is beskikbaar, wat dit ‘n intieme en besonder eksklusiewe geleentheid maak vir geskiedenisliefhebbers, trotse Afrikaners en enigiemand wat die ryk erfenis van ons land van nader wil beleef. Kom stap saam op die spore van die verlede en ontdek die verhale wat steeds tussen die bome van Onze Rust voortleef.
Besigtig items
Ander items kan by die veilingshuis langs die Jagersfonteinpad besigtig word. Diegene wat aan die veiling wil deelneem, maar nie daar kan wees nie, kan deel word van die WhatsApp-veilingsgroep of gebruik maak van ‘n opsie om per telefoon te bie. Vooraf-aanbiedings kan ook gemaak word.
Kry meer inligting oor die veiling hier.
Registrasies en navrae kan gedoen word by 071 115 6642.





