Die Bybel wat op die veiling aangebied word. FOTO: Verskaf

Kosbare oudhede opgeveil ten bate van Solidariteit Helpende Hand

, , ,

BLOEMFONTEIN – ‘n Oudhede-veiling word op 20 Oktober by Trinity Auction House aangebied, ten bate van Solidariteit Helpende Hand.

LEES OOK: Gesinne in geldnood nadat G4S-hofsaak reeds 3 maande sloer.

Felix Burri sal as die afslaer optree.

‘n Bybel uit 1914 is onder die waardevolle ware wat opgeveil sal word, sê Caeleigh Joubert, ‘n Vrystaatse maatskaplike werker.

“Dit was onder die voorraad wat Ons Winkel in Bethlehem aan ons geskenk het,” vertel sy.

“Met die eerste oogopslag is dit maar net ‘n ou Bybel. Die papier is vergeel, die bladsye het met tyd van die band losgekom en die boek dra duidelik die tekens van meer as ‘n honderd jaar se bestaan.

“Maar toe ons hom oopmaak, het die storie verander. Tussen die bladsye het ons nie net ‘n Bybel gevind nie. Ons het klein stukkies van ‘n familie se lewe gevind.

“Daar was briewe van kleinkinders wat in 1933 aan hul grootouers geskryf het, met ‘n kalligrafiepen. Een brief was netjies gevou en in ‘n selfgemaakte koevert geplaas. Nog ‘n brief het veilig tussen die bladsye van ‘n ander hoofstuk gelê.

“Daar was ‘n kleinseun se gebed vir sy oupa se gesondheid, sy vreugde oor ‘n geskenk wat hy ontvang het, en ‘n kleindogter wat haar gedagtes aan haar grootouers neergeskryf het.

“Ons weet nie alles van hierdie familie se verhaal nie. Maar tussen die bladsye van hierdie Bybel het ons klein oomblikke van hul lewe ontdek.”

Joubert sê die ou Bybel het verander in ‘n tydlyn van liefde, geloof, bekommernis en gewone alledaagse oomblikke wat iemand meer as 90 jaar gelede belangrik genoeg geag het om te bewaar.

“‘n Ou boek beteken dalk nie altyd baie wanneer jy net daarna kyk nie. Maar maak dit oop, ontdek die skatte binne die skat, en skielik word jy teruggeneem na ‘n tyd wat ons gedink het vir altyd verlore is.

“Miskien is dit wat my die meeste van hierdie veiling aangryp. Ons ontdek nie net oudhede nie. Ons ontdek stories.

“Stories wat vir dekades stil tussen bladsye gelê het.”

Saam met die Bybel sal die veiling fokus op unieke en waardevolle ware wat die Afrikaner-erfenis en geskiedenis uitbeeld. Dit sluit in antieke meubels, boerderygereedskap, boeke, familiedokumente, kunswerke, versamelstukke en kulturele artefakte.

Die opbrengs wat deur middel van die veiling behaal word, sal aangewend word ten bate van Helpende Hand se Vrystaat-streekfonds, maar boonop ook Helpende Hand se Vrystaat-studiefonds.

Laasgenoemde ondersteun studente deur middel van rentevrye studielenings.

Besigtiging kan nou reeds by die veiligshuis gedoen word.

Die Oudhedeveiling begin om 18:00 by Trinity Auction House, by die BKB-gebou langs die Jagersfontein-pad – dit is geleë net ná die Windmill Casino.

Rig navrae aan Joubert deur ‘n e-pos met vrae te stuur na caeleigh@helpendehand.co.za

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article