Kort ná die bekendstelling van ‘n unieke rolstoelbaan by die Martie du Plessis-skool vroeër vanjaar, is ‘n nuwe sensoriese tuin op Maandag 20 April by dié skool geopen.
Marieta Hurn, ‘n arbeidsterapeut van die skool, verduidelik die nuwe sensoriese ruimtes is veel meer as net ‘n mooi tuin of speelplek.

(voormalige skoolhoof) op die opening van die sensoriese
tuin by Martie du Plessis. FOTO: Lientjie Mentz
“Hierdie ruimtes vorm die fondament vir leer en ontwikkeling, waar kinders met sensoriese prossesserings-uitdagings kan reguleer.
“Vir baie van ons leerders kan die wêreld soms te helder, te hard of oorweldigend voel.
“Die tuin dien as ‘n ‘terapeutiese landskap’ waar kinders op ‘n veilige manier hul sintuie kan verken om meer gefokus terug te keer na die klaskamer.”
Talle borge en kenners was betrokke by die ontwikkeling van die tuin speel-area.
Die sensoriese tuin tussen die terapeutiese klasse sal nou aktief in terapie gebruik word.

Marieta sê of dit nou die kalmerende reuk van laventel is, die tekstuur van klippies onder hul voete, of die beskerming van die hout-skuiling (den) waar hulle tot rus kan kom – elke element is wetenskaplik ontwerp om die senuweestelsel te help herstel.
“Wanneer ‘n kind se sintuie georganiseerd is, is hul brein gereed om te leer. Die projek is ‘n belegging in die ‘wortels’ van ons kinders se ontwikkeling, sodat hulle in die klaskamer en in die lewe voluit kan blom.”

Die sensoriese tuin was die geesteskind van die vorige skoolhoof, Francois van Heerden.
Van Heerden, wat sedert die begin van die tweede kwartaal by die skoolbeheerliggaam-organisasie FEDSAS werk, het die amptelike opening van die sensoriese tuin bygewoon en almal wat maande lank aan dié projek gewerk het, bedank.
Dit sluit in Marliza den Heyer van e-sienna Life wat gehelp het met die ontwerp van die tuin en die keuse van plante.
Die terapeute by die skool, onder leiding van Marieta, het die idees rondom die tuin ontwikkel sodat dit tot beste voordeel van die leerders sal strek.







You must be logged in to post a comment.