Daar was geen ernstige beserings in die drie ongelukke wat vanoggend kort ná mekaar in Parfittrylaan en by die Benaderylaan-brug plaasgevind het nie.
Pieter du Plessis van VR Med sê die ongeluk in Parfittrylaan by die verkeerslig by Donald Murraystraat om 06:49 was drie voertuie betrokke met ‘n bakkie wat op sy sy te lande gekom het. Een pasiënt is na die Nasionaal-hospitaal geneem vir behandeling.

‘n Ford-sedan het om 06:36 met ‘n motorfiets by Benaderylaanbrug-kruising met Stalsweg in Wilgehof gebots. Die motorfietsryer is deur VR Med per ambulans na die Life Rosepark-hospitaal geneem.

Kort daarna om 07:00 was daar nog ‘n ongeluk naby dié brug.
Die rits ongelukke het ‘n groot oponthoud in Bloemfontein se besige oggendverkeer veroorsaak. Talle verkeersligte was ook vanoggend buite werking, soos die een op die kruising van Dan Pienaarrylaan en Lucas Steyn in Dan Pienaar, die verkeerslig in Markraafstraat en Zastronstraat.
Dit het veroorsaak dat heelwat leerders in die stad vanoggend laat was vir skool.
Magri Pienaar het op Facebook laat weet dat sy vanoggend ‘n uur gery het aan die 7 km wat sy gewoonlik werk toe ry. Gerhard Strauss sê dat sy kinders 20 minute laat was vir skool weens die verkeersopeenhopings. Talle ander het hul misnoë uitgespreek oor hoe mense te vinnig ry en ongeduldig in die verkeer raak.






You must be logged in to post a comment.