Die vier Vrystaters wat deel was van die Suid-Afrikaanse o.19-onderwaterhokkiespanne wat in Turkye gaan deelneem het, sê hulle het nie net die toer geniet nie, maar baie geleer.
Die twee meisies wat in die meisiesspan ingesluit is, is Taylor Coetzee (Eunice High School) en Janelle Botha (tuisonderrig), terwyl Kaleb Ras (tuisonderrig) en Xavier Branco (Grey-kollege) ingesluit was in die seunsspan.
Hulle het aan die wêreld-onderwaterhokkie-ouderdomskampioenskapsbyeenkoms van 16 tot 25 Julie in Turkye deelgeneem.
Altesaam 12 lande het op die byeenkoms meegeding.
Hoewel die Suid-Afrikaanse spanne nie plekke behaal het nie, was dit vir almal ‘n wonderlike geleentheid om te leer.
Kaleb sê dit was ‘n ervaring om op internasionale vlak aan die sport deel te neem.
“Dit het my uitgedaag om ‘n spanspeler te wees,” verduidelik hy.
Taylor sê sy het nie net baie oor die spel geleer nie, maar ook oor hoe sy kan verbeter.
“Ek het harder geswem en meer gedoen as ooit. Die sigbaarheid in die swembad waar ons deelgeneem het, was wonderlik.”






