BLOEMFONTEIN – Dit is nie net politici wat met die oog op die 4 November ‘n verskil in die gemeenskap wil maak nie.
Ramon Henney, ‘n advokaat van die stad, staan as onafhanklike kandidaat vir wyk 26 wat Universitas insluit.
Henney sê hy is self ‘n inwoner wat al 26 jaar in Universitas woon. Hy ken die probleme wat inwoners die afgelope paar jaar toenemend met onwettige studentehuise in die woonbuurt ondervind.

“Ek het nooit daaraan gedink om as onafhanklike kandidaat in die plaaslike verkiesing te staan nie, maar ek werk die afgelope jaar hard om inwoners te help om die probleme met studentehuise op te los. Inwoners het my gevra om te staan en nadat ek daaroor gedink het, dink ek ek sal ‘n verskil kan maak.”
Hy sê die sukses wat hulle die afgelope paar maande gehad het om onwettige bouwerk tot ‘n halt te bring, goedkeuring vir studentehuise te weier en eienaars aanspreeklik te hou vir die lawaai wat studente naweke maak, sê baie. “Dit doen ek selfs buite die raadsaal. Hoeveel te meer sal ek nie ‘n verskil kan maak as ek deel van die stadsraad is nie,” sê Henney.
Dit gaan nie vir hom oor politiek of persoonlikhede nie, maar oor oplossings. “Ek het die afgelope maande goeie verhoudings gebou – met rolspelers soos die Mangaung-metro soos die bouinspekteurs asook die Universiteit van die Vrystaat.”
LEES OOK: Jou kruisie is net die begin.
Hy glo in blywende oplossings, maar nie net vir studentehuise nie. Ook die infrastruktuur wat nooit verbeter is toe die studentehuise soos paddastoele in die woonbuurt begin opskiet het nie. “As die Mangaung-metro sy eie wetgewing nakom, sal probleme nie kritieke afmetings aanneem nie. Soos die rioolnetwerk wat gebou is vir erwe van vyf inwoners waarop daar nou tot 30 mense bly.”
Henney het, soos ander rolspelers ook, klagte by die Openbare Beskerming gelê oor die probleme met studentehuis-ontwikkelings in Universitas en Parkwes. “Ek probeer alles reg doen. Probleme soos paaie wat verval, die infrastruktuur wat verbeter moet word, misdaad en dwelms, huise wat nie aan reëls voldoen nie en onwettige bouery by studentehuise sal nie oornag opgelos word nie, maar met harde werk kan een mens ‘n verskil maak.”
Hy sê hy is trots op wat hy en lede van die gemeenskap reeds bereik het om Universitas én omliggende woonbuurte weer ‘n plek te maak waar mense wil bly. “Ek is self ‘n inwoner en dit is vir my belangrik om gelukkig en veilig in my huis te bly.”






You must be logged in to post a comment.