4 November is voting day.
South Africans will cast their votes on 4 November.

Jou kruisie is net die begin

,

In minder as drie weke gaan kandidate van honderde geregistreerde politieke partye handvrywend en met gespanne glimlagte rondstaan terwyl die net meer as 29 miljoen geregistreerde stemgeregtiges hul kruisies in stemlokale trek.

Dit terwyl die meer as tien miljoen stemgeregtiges wat nié geregistreer het nie, op 4 November hul mantra, “Dit help tog nie om te stem nie”, herhaaldelik gaan opper.

Die kruisie word met ‘n kandidaat in gedagte getrek, maar daardie kruisie trek elke landsburger vir hom- of haarself, want die kandidaat is net ‘n beliggaming van die verkiesingsmanifes van ‘n bepaalde politieke party.

ALSO READ: ANC succeeds in court case to include 181 late nominees.

So kort voor ‘n verkiesing raak ‘n mens verlore in die politieke geraas. Hoe onbelangrik internasionale herdenkdae mag voorkom is dit ‘n herinnering dat die wêreld groot is, maar dat elkeen in ons kleine ruimte onlosmaaklik deel daarvan is.

Die internasionale dae wat in dié week herdenk word gee ‘n goeie aanduiding dat die wêreld uit méér bestaan.

Soos Wêrelddag vir Ramprisikovermindering op 13 Oktober: Wanneer burgers rommel in stormwaterdreine gooi, word verstoppings veroorsaak wat met swaar reën gelokaliseerde oorstromings veroorsaak. Goeie burgerskap is nie net om jou kruisie op ‘n stembrief te trek nie. Dit is ook om te verstaan dat gedrag gevolge het.

Die dag daarna is Wêrelddag vir Trekvoëls – ‘n herinnering dat ons omgewing deel is van ‘n wêreldwye ekosisteem. Op 15 Oktober is dit Wêrelddag van Landelike Vroue, gevolg deur Wêreldvoedseldag op 16 Oktober. In veral landelike gebiede is vroue die ruggraat van voedselsekerheid – hulle bedryf klein tuine en gemeenskapsvoedingskemas.

Goeie burgerskap is om dit te ondersteun waar jy kan, en om openbare ruimtes wat vir die gemeenskap bedoel is, te respekteer en om vandalisering te help voorkom.

Op ​​17 Oktober is dit Wêrelddag vir die Uitwissing van Armoede. Armoedeverligting is ‘n hoofdoelwit van doeltreffende regerings; ook hier moet landsburgers hul deel doen. Korrupsie, stroping van infrastruktuur, of om klinieke en biblioteke wat vir die gemeenskap opgerig is, te vandaliseer, verdiep die armoedesiklus.

Ná jy jou kruisie getrek het kan jy nie jou toekoms in die kandidaat se hande los nie. Dink aan die internasionale dae en wat dit simboliseer; besef dat ‘n skoon, veilige en vooruitstrewende gemeenskap by die keuses begin wat ons elke dag in ons eie omgewing maak.

  • Helena Barnard is die redakteur van NoordKaapBulletin, ‘n susterskoerant van BloemNuusExpress.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article