Kom ons veronderstel iemand moet jou betaal om jou unieke ervaringe te verpak, jou storie te vertel en ‘n prys daarop te plaas. Hoeveel sal jy vra?
Goeie storievertellers verstaan die kuns van verpakking net soos goeie bemarkers verpakking verstaan.
Dink byvoorbeeld hoe die omslag van ‘n boek, die lettertipe, papiergehalte, ja selfs die reuk daarvan kan bydra tot die waarde daarvan. ‘n Spesiale uitgawe van ‘n klassieke roman verkoop dikwels vir etlike honderde rande meer as die gewone uitgawe. Die teks binne bly dieselfde maar die koper is bereid om meer te betaal weens die omslag.
So dikwels verloor goeie lewensstories hul waarde omdat ons hulle verkeerd verpak. ‘n Goeie storieverteller maak haar stories waardevol deur dit binne konteks en met goeie tydsberekening te vertel.
Nog ‘n manier waarop ons stories verkeerd vertel, is om hulle te gebruik om pedanties, pedagogies of prekerig te probeer wees. Die storie moet denke prikkel, idees genereer en empatie toon. Daarvandaan kan die luisteraar hulle eie lesse daaruit te leer.
Duursame stories word nie gebruik om stiltes te vul nie, stiltevulling is die gevolg van ongemak – die keuse van wanneer en hoe om ‘n storie te vertel is afhanklik van tyd en geleentheid, stories wat stiltes probeer demp is dikwels oorbodig en verbale diarree verdo(e)m enige geleentheid vir wysheid. Dan is daar die uitdaging van outentisiteit. Dikwels vertel wie ons is ‘n sterker storie as dit wat ons wil sê. Ons is ons stories. En dan, wanneer die storie te dik vir ‘n daalder is, laat blyk darem deur die vertelling dat jy oordryf – goeie storievertellers verstaan hoe om die grens tussen feite en fiksie met vertelstyl, verrassende wendings en liggaamstaal duidelik te hou.
Storievertellers delf gedurig vir diamante met storiepotensiaal in die myne van hulle ervaring, waarnemings, drome en gedagtes. Die regte diamant, wat dikwels deur drukking, slyping en afronding gevorm word tot ‘n storie is dikwels die mees waardevolle item wat ons op hierdie lewensreis kan bekom.
Die waarde van stories word nie in geld gemeet nie, maar in nalatenskap en skep legendes en helde uit gewone mense. Iets wat kunsmatige intelligensie (KI) nooit sal kan doen nie, want die verskil tussen ‘n wie en ‘n wat is ‘n storie.




