WELKOM – ‘n Jong man van Welkom het sy eie matriekafskeidpak ontwerp en die ingewikkelde steenwerk daarop self gedoen.
Die kreatiewe Henze du Preez, ‘n matriekleerling aan die Goudveld-Hoërskool in Welkom, wil eendag ‘n mode-ontwerper word en het reeds ‘n groot verskeidenheid klere ontwerp.
Hierdie ontwerpe sluit in danskostuums tot Mnr. en Mev. Gimmie-rokke.
“Ek het ook een van my dansvriendinne se danspakkie ontwerp wat sy oorsee in Italië gedra het. My vriendinne vra my gereeld om hul klere reg te maak of te herstel,” sê hy entoesiasties.
Henze was nege jaar oud toe sy passie vir ontwerp ontwaak het.
“Ek het vir my pop ‘n rokkie uit blare en stokkies gemaak. My ma, Hester du Preez, was toe heel beïndruk met my kreatiwiteit en het vir my klere-ontwerpboeke gekoop,” sê sy.

Hy sê sy vriende hoor graag hoe hy eendag sy eie reeks wil uitbring.
“Ek dink elke dag aan iets anders en my beste idees kom altyd saans laat. Wanneer ek moet slaap, sit ek in die donker en teken. Ek sal baie graag rokke ontwerp.”
Henze gaan volgende jaar Europa toe om te werk, vir sy studies te betaal en meer insig te kry oor wat die ontwerpers daai kant doen.
“Milaan is een van die grootste mode-aantrekkings ter wêreld. Ek wil graag eksperimenteer en vakke soos kostuummode, grafika en binnehuis-ontwerp aanpak om te kyk watter rigting my die meeste trek.”
Henze is ‘n ywerige danser en dans al vir 12 jaar.

“Ek wil baie graag op skepe gaan dans. Ek hou daarvan om my kreatiwiteit uit te beeld – soos dans, kuns en speeltjies vir my klein nefies. Ek neem vinnig leiding en is ‘n baie sterk leier, dus dink ek sal eendag my eie besigheid kan begin.”
Sy metgesel vir die Goudveld-Hoërskool se matriekafskeid was Alandri Krause, wat ‘n rooi skepping gedra het. Die rooi het die groen van Henze se pak laat uitstaan.
Dirkie Prior het die pak vir Henze gemaak.
LEES OOK: Spesiale matriekafskeid met een eregas






You must be logged in to post a comment.