Ná verlede week se berig in BloemNuus oor die erge vermorsing van die water in Albrechtstraat, het die Manguang-metro Maandag begin met herstelwerk aan die probleem.
Water in die noordelike voorstede is teen gistermiddag afgesluit terwyl daar aan die waterlekplekke gewerk word. Die watertoevoer in Arboretum, Bayswater, Heuwelsig, Dan Pienaar en ander aangrensende dele van die stad is vir ongeveer agt ure afgeskakel om herstelwerk te doen.

Die herstelwerk kom nadat inwoners gaan meet het hoeveel water gaan hier onder die reservoir tussen Happy Valley en Albrechtstraat waar twee pype ernstig lek. By een lekplek spuit die water uit die pyp in ‘n pompkamer.
In die suidelike dele van Bloemfontein is daar probleme met die grootmaat-waterverskaffing vanaf Vaal Water Central.
Die slik wat opgebou het by die uitlaattonnel van die Welbedachtdam, bemoeilik die vloei van rou water na die stelsel. Dit het ‘n invloed op die verskaffing van water na Dewetsdorp, Wepener en dele in die suide van Bloemfontein.
Tegniese spanne is op die terrein besig met ontslykingswerk om volle onttrekkingskapasiteit te herstel.
Inwoners in die suidelike gebiede kan lae waterdruk en beperkte watertoevoer ervaar gedurende hierdie tyd.
Inwoners word versoek om water spaarsamig te gebruik terwyl die stelsel stabiliseer.






You must be logged in to post a comment.