‘n Replika van Raubex se hoofgebou, uit Lego aanmekaargesit, was een van die artikels wat
opgeveil is as deel van Raubex se Ryder Cup-gholftoernooi op Donderdag 6 Augustus en Vrydag.
Benewens die groot pret wat die spelers kon hê, is R1,77 miljoen danksy die toernooi aan liefdadigheid en gemeenskapsprojekte geskenk.

Charl van Schalkwyk van Raubex sê die geldinsamelingsprojek vind al die afgelope 10 jaar plaas. Hy sê hy het die Lego-modelle gesien wat Leon Mentz vir Grey-kollege gebou het, en het besluit om iets soortgelyks vir vanjaar se Ryder Cup-veiling te laat maak.
Leon het aan die werk gespring en ‘n model van die hoofgebou, asook die naam Raubex, uit Lego gebou vir die geleentheid.
Charl sê veral die gebou het baie goed gedoen, met R56 000 wat op die veiling behaal is.
Tien jaar gelede het Raubex begin met sy Make-a-Wish-veldtog, wat personeellede van die maatskappy ondersteun. Vanjaar is R300 000 weer aan die projek toegewys.
Inwoners van Bloemfontein is goed bewus van die reuse-werk wat Raubex doen om slaggate in die stad te vul.
Met geld uit die Ryder Cup word R300 000 weer begroot vir Raubex se 1 Less Pothole-projek.
Ander skenkings gaan aan die Vereniging vir Gestremdes, ter wille van die aanbring van sonkrag vir die Jean Webber-sentrum se ligte en waskamer; die Westdene-woonbuurtvereniging se heiningprojek, fase 2 en fase 3; die aanbring van sonkrag en bouwerk by Hospice Bloemfontein, geleë by die Siesta-aftreeoord; ‘n bydrae ter ondersteuning van Suid-Afrikaanse rolstoelrugby; asook talle ander projekte wat positiewe verandering in die gemeenskap meebring.
Sedert 2018 het Raubex al 137 werknemers en hul gesinne wat dit nodig gehad het ondersteun en R2,74 miljoen aan Make-A-Wish bestee. Dit het ingesluit die koop van ‘n elektriese rolstoel vir een van die werknemers om makliker by haar werkplek te kom.






You must be logged in to post a comment.