Vir baie musikante in Bloemfontein is die Sand du Plessis-teater meer as net ‘n konsertsaal. Dit is ‘n droomverhoog – die soort plek waar jong kunstenaars in die gehoor sit en wonder hoe dit eendag sal voel om daar op te tree.
Op Saterdag 5 September word dié droom ‘n werklikheid vir die Rhapsody-orkes se lede. Sentimental Cinema 2, in samewerking met Pacofs aangebied, is ‘n belangrike mylpaal vir die gemeenskapsorkes wat in 2020 ontstaan het.
Dit het gegroei tot ‘n gemeenskapsensemble waarin amateurmusikante, studente, leerders en professionele spelers saam musiek maak.
Die idee agter Sentimental Cinema 2 is eenvoudig, maar baie kragtig: om gehore deur filmmusiek nader aan orkesmusiek te bring. Waar sommige mense dalk huiwerig is om ‘n tradisionele orkeskonsert by te woon, het byna almal ‘n film se wysie wat iewers in hul geheue woon.
Daardie verbintenis vorm die hart van die konsert. Dit fokus nie op die harde aksietonele van rolprente nie, maar op die mooi, sagte en nostalgiese oomblikke – die musiek wat ‘n mens laat onthou waar jy was, saam met wie jy die fliek gekyk het, en hoe dit jou laat voel het.
Die program sluit musiek in uit rolprente soos Shrek, Gone with the Wind, Chariots of Fire, Howl’s Moving Castle, Luca, Jurassic Park, How to Train Your Dragon, Free Willy,The Sound of Music, Scent of a Woman, Harry Potter, The Mission, The Notebook, The Lion King, Kung Fu Panda, Inception, Amistad en Home Alone.
Vier skoolkore sal ook op die verhoog wees: die Laerskool Willem Postma se senior koor, die Laerskool Fichardtpark senior koor, die senior koor van die Laerskool Jim Fouché en die senior koor van St Michael’s School.
Verlede jaar se Sentimental Cinema-konsert was reeds twee weke voor die optrede uitverkoop. Hierdie jaar keer die konsert terug met ‘n nuwe program, ‘n groter verhoog en die toevoeging van skoolkore.
Kaartjies vir die konsert op 5 September om 19:00 kos R100 of R50. Koop by Pick n Pay of op webtickets.co.za.






