Cantando@bloem sing Saterdag in die Cantando-feeskonsert. FOTO’S: Verskaf

‘n Besondere samekoms van kore waarop uitstaande koorklanke, passie en harmonie gehoor sal word, vind plaas wanneer die gemeenskapskoor Cantando@bloem ‘n feeskonsert aanbied.

Die Cantando-feeskonsert Drie kore, Een stigter, vind op Saterdag 2 Mei in Bloemfontein plaas.

Die gebeurtenis roep ‘n musikale belewenis in die lewe met die drie kore Cantando@delta, Cantando@bloem en Cantando@algoa wat vir die eerste keer saam op een verhoog optree.

Bouwer van Rooyen, stigter van die drie Cantando-kore.
Bouwer van Rooyen, stigter van die drie Cantando-kore.

Al drie dié kore is deur Bouwer van Rooyen gestig.

Elke koor sal ‘n keur van werke onder leiding van sy eie dirigent sing, waarna die konsert op ‘n indrukwekkende hoogtepunt afgesluit word met ‘n kragtige massa-nommer wat deur Van Rooyen gedirigeer word.

Meer as 100 lede van dié drie gemeenskapskore neem ook aan ‘n stampvol koornaweek op 1 en 2 Mei deel om hierdie uitsonderlike koorleier se toewyding aan gemeenskapsbetrokkenheid in koorsang in Bloemfontein te vier.

Dit is ‘n onvergeetlike fees van stemme en geleenthede om vriendskappe te laat herleef.

“Cantando@bloem is opgewonde om hierdie historiese geleentheid aan te bied en ‘n geleentheid te skep waar koorsang en vriendskap feesvier,” sê Ilané van Wyk, koorleier van Cantando@bloem, oor die fees.

“Ons moedig liefhebbers van koorsang aan om die feeskonsent op 2 Mei by te woon en vroegtydig plekke te bespreek.

“Dit is vir my as dirigent en koorleier ‘n eer om in die 17de bestaansjaar van die Cantando@bloem deel van die feesviering te wees,” sê Van Wyk.

Die Cantando@delta is in 1988 in die Vaaldriehoek gestig, die Cantando@bloem in 2009, en die Cantando@algoa in 2016 in Port Elizabeth.

Die konsert vind Saterdag om 18:00 in die NG kerk Berg-en-Dal plaas.

Kaartjies kos R60 en kan gekoop word op quicket.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article