Een van die stad se groot winkelsentrums, Northridge Mall, word aan Cape Town 101 Investments verkoop.
Die Kompetisiekommissie het nou die verkoop van die sentrum in Kenneth Kaundaweg in die noorde van Bloemfontein goedgekeur.
Die sentrum – destyds bekend as Noordstad – is in 2003 deur wyle Wim Boshoff en vennote ontwikkel nadat hulle groot potensiaal hier gesien het. In 2007 is die sentrum opgeknap met die vestiging van Dis-Chem in die sentrum.
Dit was egter eers ná die herontwikkeling van die sentrum dat dit werklik ‘n bestemming en gewilde inkopiesentrum in Bloemfontein geword het.
Boshoff is in 2015 oorlede, maar Northridge het steeds ‘n belangrike deel van PHG se portefeulje en sy nalatenskap binne die groep gebly.
Vroeg in 2017 het PHG die volgende groot herontwikkelingsfase van die sentrum begin, met Virgin Active as die eerste fase van die ontwikkeling en Woolworths reeds bevestig as deel van die tweede fase. In dié tyd het die geleentheid ontstaan om die verdere herontwikkeling van Northridge Mall in vennootskap met die Moolman-groep aan te pak.
PHG en die Moolman-groep het die projek vervolgens gesamentlik voortgesit, met gedeelde verantwoordelikhede, en die herontwikkeling saam suksesvol voltooi.
Ná voltooiing van die herontwikkeling het albei groepe steeds aktief by die sentrum betrokke gebly en verantwoordelikhede gedeel.
In 2024 het PHG besluit om die volle dag-tot-dag-bestuur van die sentrum aan die Moolman-groep oor te dra, terwyl PHG steeds as mede-eienaar by die bestuur en strategiese besluitneming rondom die sentrum betrokke gebly het.
Die finansiële direkteur van die PHG Groep, Adam-John Boshoff, sê die besluit om Northridge Mall te verkoop is suiwer ‘n beleggingsbesluit.
“Daar is ‘n tyd om te koop, en ‘n tyd om te verkoop. As verantwoordelike beleggers glo ons daarin om bates op die regte tyd en teen die regte prys te koop en te verkoop, en ons het gevoel dit was die regte tyd om hierdie bate te verkoop,” sê hy.
Boshoff sê aangesien PHG ‘n familieonderneming is, dra Northridge Mall groot sentimentele waarde.
“Dit was een van die eerste groot kleinhandelbates waarby my pa betrokke was. Om op die duur wyse besluite te neem, moet ‘n mens nie toelaat dat sentiment besluitneming vertroebel nie.”
Hy sê die Boshoff-familie, PHG en die Moolman-groep was eenparig oor die besluit om te verkoop. Die verkoop beteken geensins dat PHG uit Bloemfontein onttrek nie.
“Ons het steeds beduidende eiendomsbelange in die stad en bly voortdurend op die uitkyk vir nuwe geleenthede hier. Die verskuiwing van ons hoofkantoor na Pretoria was ‘n strategiese stap om ons landwye uitbreiding te fasiliteer, en die opbrengs van hierdie verkoop help ons om verder te diversifiseer, onder andere met projekte soos Van Rijn Meent in Stellenbosch, New Corner in Northcliff, The Buzz in Fourways en die Pick n Pay Hyper-ontwikkeling in Faerie Glen, Pretoria.
“Bloemfontein bly egter steeds op ons radar vir toekomstige geleenthede.”






