Die Cheetahs se vierde ronde in die Suid-Afrikaanse Bekerwedstryd teen Oostelike Provinsie, vind Saterdag 28 Maart om 13:00 op Shimlapark by die Universiteit van die Vrystaat.
Die wedstryde word op Shimlapark gespeel weens twee sokkerwedstryde wat op die Toyota-stadion gespeel word.
Ronel Pienaar, woordvoerder vir die Vrystaat Cheetahs, sê ná die afgradering van die Toyota-stadion verlede jaar, het die stadion ook sy FIFA- internasionale sokker-akkreditasie verloor.
Sedertdien is heelwat vordering gemaak om die stadion aan die verwagte standaarde te laat voldoen.
Nadat die stadion onlangs weer vlak 2-status ontvang het, werk die Vrystaat Cheetas nou aktief daaraan om die internasionale sokkerstatus te herstel.
FiFA het tydelike akkreditasie aan die Toyota-stadion toegestaan vir die aanbied van die twee internasionale sokkerwedstryde. Die suksesvolle aanbied van die twee sokkerwedstryde tussen Lesotho en die Seychelles kan moontlik daartoe lei dat die Toyota-stadion weer in die toekoms internasionale spanne – insluitende Bafana-Bafana – in die stadion kan verwelkom.
Die wedstryd se begintyd is geskuif van 15:00 tot 13:00 weens die weervoorspelling met die risiko van weerlig later in die dag. Die verskuiwin van die begintyd verminder diekans dat die speeltyd onderbreek gaan word.
Dit is ‘n belangrike wedstryd vir die Cheetahs om te verseker dat hulle ‘n plek in die semifinaal van die SA-beker kan kry.




