Die Vrystaat Cheetahs spog met nog ‘n oorwinning in die Curriebeker-seisoen. FOTO: Johan Pretorius

BLOEMFONTEIN.Dit was ‘n opwindende naweek vir liefhebbers van goeie rugby met ‘n taai stryd op die Toyota-stadion en goeie rugby op Grey-kollege se rugbyveld in dié skool se interskole teen Paul Roos-gimnasium.

Terwyl daar harde wedstryde gespeel is, was die Vrystaters Saterdag 16 Augustus aan die wenkant

Grey-kollege se eerste rugbyspan het ‘n naweek van sport as gasheer vir Paul Roos op ‘n hoogtepunt afgesluit deur die besoekers net-net met 26-25 te klop.

In ‘n vooraf-wedstryd in die Toyota-stadion in ‘n SuperSport Skole-rugbywedstryd het die span van die Hoërskool Fichardpark die span van die Hoërskool Jim Fouché met 17-10 geklop.

Die stryd tussen die Cheetahs en Westelike Provinsie as deel van vanjaar se Curriebeker-seisoen het vir naelbyt-oomblikke gesorg.

Neels Volschenk is aangewys as die speler van die wedstryd in die Cheetahs se
Curriebeker-wedstryd teen die WP op die Toyota-stadion in Bloemfontein.
FOTO: Johan Pretorius

Dit het in die eerste helfte van die wedstryd tussen die Vrystaat Cheetahs en die span van die Westelike Provinsie gelyk of die tuisspan sommer met ‘n groot telling gaan wen.

In die 56ste minuut was die Cheetahs nog gemaklik 31-10 voor en dit het gelyk of hulle in hierdie wedstryd in die Curriebeker-reeks gaan koning kraai.

Ná ‘n rits foute wat die Cheetahs gelaat het met net 13 man op die veld, het die span van WP gevaarlik begin lyk en teruggeveg met die eindtelling 31-24 in die Cheetahs se guns.

Neels Volschenk, wat een van die Cheetahs se vyf drieë gedruk het, is aangewys as die speler van die wedstryd.

Die Cheetahs kom nou op 23 Augustus te staan teen die Leeus en speel daarna op 29 Augustus teen die Griekwas. Albei hierdie wedstryde sal in die Toyota-stadion gespeel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article