Lede van die Bloemfontein-tak van AfriForum Jeug het Saterdag 9 Mei die veiligheid van almal wat rondom die Hoërskool Fichardtpark beweeg, verbeter.
Die groep het dit gedoen deur verskeie padmerke in die omgewing te verf. Dit sluit in twee voetoorgange in Hudsonrylaan wat skoliere daagliks gebruik, die padmerke by die stopstrate op die hoeke van Van der Linde- en Bergstedtstraat, asook Bergstedt- en Strydomstraat. Tydens die projek is altesaam 22 liter verf gebruik.

Hierdie aksie vorm deel van die organisasie se jaarlikse Herstel en Versnel-projek en is ’n verdere bewys van AfriForum se voortdurende betrokkenheid by die verbetering van gemeenskapsveiligheid en infrastruktuur.
Die projek gaan egter oor meer as net verf op teer: dit gaan oor die veiligheid van kinders wat soggens skool toe stap; oor ouers wat elke dag met bekommernis hul kinders by die hek aflaai, hoopvol dat hulle veilig tuis sal kom; en oor ’n gemeenskap wat weier om toe te kyk hoe infrastruktuur verval terwyl mense se veiligheid in gedrang kom.

AfriForum Jeug se Bloemfontein-tak is van mening dat elke kind die reg het om veilig by die skool aan te kom en dat elke motoris duidelike padtekens benodig om ongelukke te voorkom. Wanneer gemeenskappe self opstaan en verantwoordelikheid neem, herstel dit nie net hoop nie, maar toon dit ook dat daar steeds mense is wat omgee vir hul gemeenskap.
“Ons jeug wil nie net oor verandering praat nie — hulle wil dit self doen. Hierdie projek bewys dat jongmense ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap kan maak en dat veiligheid vir ons ’n prioriteit bly,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir AfriForum in Bloemfontein.
Groenewald sê die lede van AfriForum bedank elke jongmens en vrywilliger wat hul tyd, energie en moeite afgestaan het om hierdie projek moontlik te maak.







You must be logged in to post a comment.