Bome wat gesnoei word onder kragpale in Bloemfontein.
Bome word so gesnoei onder kragdrade in Bloemfontein. FOTO: Verskaf

As die Mangaung-metro ‘n behoorlike instandhoudingsplan vir die snoei van bome gehad het, was dit nie nodig dat bome soms erg teruggesnoei moet word waar dit aan elektriese kabels raak nie.

Pieter Lotriet, DA-wyksraadslid, sê die DA het kennis vir ‘n mosie by die speaker van die Mangaung-metro ingedien wat vra vir die dringende herinstelling van ‘n behoorlike jaarlikse boom-onderhoudsplan binne die begroting, met duidelike departementele verantwoordelikheid en tydlyne.

“Die uitgebreide kap van bome op munisipale sypaadjies oor die metro heen het verstaanbare kommer onder inwoners gewek. Dit is belangrik om duidelik te maak dat die sypaadjies, asook die bome daarop, steeds die eiendom en verantwoordelikheid van die metro is,” verduidelik Lotriet.

Bome onder kragdrade wat woes weggesnoei is.
Bome onder kragdrade wat woes weggesnoei is. FOTO: Verskaf

Jare gelede is hierdie instandhoudings deur die metro se departement parke en begraafplase uitgevoer volgens ‘n geskeduleerde jaarlikse snoeiprogram, onder toesig van aangewese amptenare. Weens die verlies aan kapasiteit én begroting binne parke, het dit egter effektief verval.

“As gevolg hiervan, is Centlec gedwing om verantwoordelikheid te neem vir die uitkap van takke waar elektriese infrastruktuur in gevaar is. Die gepaardgaande koste word dus nou deur Centlec se begroting opgeneem, al is dit nie sy primêre funksie nie. Die snymetode wat oor die stad heen toegepas word, word gedryf deur een oorkoepelende doel: die beskerming van elektriese infrastruktuur en die voorkoming van elektriese gevare.”

LEES OOK: Toevoer herstel: Dele van Bfn ’n tweede dag ure sonder krag

Lotriet sê bome word aggressief teruggesnoei om die behoefte aan herhaalde korttermyn-ingryping te minimaliseer en om die risiko van elektriese skok tydens die proses te verminder.

“Inwoners wat verdere professionele vorming of snoei van bome langs hul eiendomme wil onderneem, kan dit slegs doen nadat hulle formele goedkeuring van die departement parke verkry het, aangesien elke boom op sy eie meriete beoordeel moet word,” verduidelik hy.

Hierdie situasie beklemtoon die gevolge van die metro se versuim om sy jaarlikse boomsnoeiskedule te handhaaf.

“As voorkomende instandhouding konsekwent uitgevoer is, sou die huidige ernstige en dikwels ontstellende snoeimaatreëls waarskynlik nie nodig gewees het nie.”

Lotriet sê ‘n volhoubare, behoorlik befondsde jaarlikse instandhoudingsprogram moet heringestel word om beide die stad se stedelike omgewing en sy kritieke elektriese infrastruktuur te beskerm.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article