Net ‘n bietjie meer as ‘n jaar nadat die restaurant Lejit Is…in die Southern Centre in Fichardtpark oopgemaak het, is dié restaurant op die nasionale Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) se Rosetta-toekenningsgeleentheid vereer.
Joanita Coetzee, eienaar, sê dit is ‘n prestasie wat onmoontlik sou wees sonder dié restaurant se getroue klante.
Die Rasa-eerbewyse is op Dinsdag 17 Maart by Venue op Leslie toegeken. Dit is vanjaar die 20ste jaar dat restaurante oor Suid-Afrika heen op dié manier vir puik diens beloon word.

“Om benoem te word as een van die 100 toprestaurante in Suid-Afrika vir goeie diens, is ‘n groot eer,” sê Coetzee.
Die eerbewyse vereer Suid-Afrikaanse restaurante in verskillende afdelings. Restaurante soos Restaurant Klein Jan, Casa Bella Mall of Africa, Old Ducky is benoem.
Coetzee het Lejit Lekker in 2023 gekoop toe dit in Preller Walk was. In November 2024 het sy dit in die Southern Centre hervestig.
“Die restaurant hier is lekker helder en op ‘n baie goeie plek in die sentrum,” verduidelik sy.
“Ons het ook die naam verander na Lejit Is… Dit is omdat die restaurant vir baie staan: Lejit is…warm koffie op ‘n koue dag; Lejit Is…goeie vriende.
“Hierdie is die droom wat ek in gedagte gehad het: ‘n restaurant waar vriende kan kuier, waar mense saam kan wees.”
Sy sê dit is ‘n veilige omgewing waar mense soms net weer mens kan wees.
Saam met sjef Berdine de Necker, haar vennoot en meester agter die kospotte, bedryf dié twee dinamiese vroue ‘n restaurant waar almal welkom is.







You must be logged in to post a comment.