Bloemhofdam
Die 24ste jaarlikse Bloemhofdam Bonanza vind eersdaags plaas. Foto: Facebook: Bloemhof Dorp en Dam / Wouter en Sunet Liebenberg

BLOEMHOF – Nadat die 24ste jaarlikse Bloemhofdam Bonanza vroeër vanjaar uitgestel is, vind dié gewilde oewer- en boothengeltoernooi met meer as R200 000 se kontantpryse op die spel, van 24 tot 28 September plaas.

Die bonanza is in April uitgestel weens hewige reën wat oor groot dele van die land uitgesak en vloedsituasies in riviere veroorsaak het. Dit het daartoe gelei dat die hengeloewers by die Bloemhofdam, op die grenslyn van die Noordwes en Vrystaat, heeltemal oorspoel het.

Vir die rede het Eco-Care Trust, organiseerders van The Courier Guy Bloemhofdam Bonanza, dit tot in September herskeduleer, met Erfenisdag op 24 September ‘n vakansiedag.

Reinette Barnard, algehele wenner van die Bloemhof Bonanza 2024, met haar wenkarp van 80 cm. Sy is die eerste vrou om dié toernooi te wen.
Reinette Barnard, algehele wenner van die Bloemhof Bonanza 2024, met haar wenkarp van 80 cm. Sy is die eerste vrou om dié toernooi te wen. Foto: Facebook/Eco Care Bonanza

Die Bloemhofdam Bonanza word as een van die grootste en lekkerste toernooie op die hengelkalender in Suid-Afrika beskryf. Vanjaar is die oewers van Sandveld en Sloep by die bestaande Noordwes- en Verlatenkraal-oewer gevoeg. Die oewers Sandveld en Sloep gee meer opsies aan deelnemers en was tradisioneel baie gewilde hengeloewers. Die bote lanseer steeds van Noordwes se sleephengel want Sandveld s’n is onbruikbaar.

Eco-Care Trust, ‘n omgewingsbewaringsorganisasie, se doelwit is om toe te sien dat damme en riviere volhoubaar gebruik en beskerm word. Met inkomste wat uit die bonanza bekom word, doen hulle juis dit.

Bloemhof is onlangs as Kwêla se Dorp van die Jaar aangewys, en die projekbestuurslede hiervan sê die kompetisie bring nie net vreugde aan hengelliefhebbers nie, maar dra grootliks tot die ekonomiese groei van Bloemhof by. Boonop het baie mense uit die hengelgemeenskap vir Bloemhof in dié kompetisie gestem en word ook hulle uitgenooi om dit wat die dorp en die hengelkompetisie bied, te beleef.

LEES OOK: Kwêla se Dorp van die Jaar: Son skyn nuut oor Bloemhof as wendorp

Groot kontantpryse op die spel

The Courier Guy borg die algehele eerste prys van R100 000 vir die langste karp, en R50 000 vir die langste baber. Mafika Engineering borg die algehele tweede prys van R30 000 vir die tweede langste karp en ook R20 000 kontant in die Mafika Engineering-spankompetisie waar die span met die vier langste babers die wenners is. Die organiseerders beklemtoon dat ‘n span ‘n naam het, met ‘n spankaptein, en maksimum vier lede per span.

Die 24ste jaarlikse Bloemhofdam Bonanza waar oewer- en boothengel beoefen kan word, vind eersdaags plaas, met meer as R200 000 se kontantpryse op die spel. Foto: Eco-Care Trust

Hengelgerei ter waarde van meer as R100 000, geborg deur Mitchell, is as pryse in die seniorafdeling te wen, met hengelgerei-pryse ook in die vroue- en juniorafdeling te wen – onderskeidelik deur Cosmo’s Fishing Supplies en Die Viskas (Bloemhof) geborg. Vanjaar is daar ook kontantpryse pryse vir deelnemers met gestremdhede.

Deelnemers het weer die geleentheid om met oorspronklike spandrag te spog in die Gys Pitzer Motoring Best Dress-kompetisie. R10 000 kontant is op die spel. Kontak die G2 Shoppe (081 247 1440) vir hulp met spandrag.

Visse word gemeet, nie geweeg nie

Die Bloemhofdam Bonanza het oor die jare groot tegnologiese ontwikkeling ondergaan. Die visse word die afgelope paar jaar nie meer geweeg nie, maar gemeet. Die voordeel hiervan is veelvuldig: ‘n Elektroniese voorlopersbord is ontwikkel wat elke deelnemers op sy foon ontvang. Sodoende kan die deelnemers deurlopend sien wie die voorlopers is, en of dit nodig is dat hul visse amptelik deur die beamptes gemeet moet word.

Die 24ste jaarlikse Bloemhofdam Bonanza waar oewer- en boothengel beoefen kan word, vind eersdaags plaas, met meer as R200 000 se kontantpryse op die spel. Foto: Eco-Care Trust

Elke deelnemer meet sy eie vis op sy eie maatband en stuur die lengte met sy foon na die organiseerders. Die lengtes van al die visse verskyn op die voorlopersbord. Dit is egter net nodig indien die deelnemer in die top 20 van die voorlopersbord verskyn om die vis deur ‘n beampte te laat verifieer. Daar is dus nie lang rye deelnemers by ‘n inweegpunt en hope dooie vis nie. Deelnemers het baie meer hengeltyd.

n Ander voordeel is die aanlynregistrasie van deelnemers wat meehelp dat daar geen toue by die hekke is nie en deelnemers kan reguit na die hengeloewers gaan.

LEES OOK: Knewels gevang by 23ste Bloemhof Bonanza; vrou algehele wenner

Die Plastics SA Hou die dam skoon-kompetisie vind weer plaas om die oewers skoon agter te laat. Die eerste 500 deelnemers sal ook ‘n geskenksak met onder meer ‘n Twin Series-hengelaaspakkie en ‘n pakkie Wabona-papmeel ontvang.

Baie pryse is met geluktrekkings te wen, en die kaartjies hiervoor kan aanlyn of by die bonanza gekoop word teen R10 ‘n kaartjie. Loukies borg ‘n aasboot, Black Diamond ‘n kisvrieskas, Harolds ‘n lugversorger, MonteCrous-hotel by Vanderkloof ‘n midweekwegbreek, en nog vele ander ter waarde van R100 000.

  • Hengelkaartjies is R350 per volwassene en R150 vir juniors (o.13).
  • Alle kaartjies kan aanlyn gekoop word by justsc.co.za.
  • Besoek bloemhofbonanza.com vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article