Bloemhofdam Bonanza
In 2025 het Johan Potgieter se wenbaber 27,33kg geweeg. FOTO: Verskaf
Noordkaap Bulletin

Katrolle én wenners gaan sing met 25ste Bloemhofdam Bonanza


BLOEMHOF, Noordwes – Meer as R200 000 se kontantpryse is op die spel wanneer die 25ste The Courier Guy Bloemhofdam Bonanza eersdaags aangebied word.

Benewens die feit dat daar groot pryse in talle afdelings te wen is, kan hengelaars wat dié byeenkoms van 29 April tot 3 Mei bywoon, weet dat dit met ‘n kwarteeu se ervaring op geoliede wiele loop.

Die Bloemhofdam Bonanza word as ‘n oewer- en boothengeltoernooi aangebied. FOTO: Verskaf

Dit word as een van die grootste en lekkerste hengeltoernooie in die land beskryf.

Soos voorheen is dit ‘n oewer- en boothengeltoernooi, waarin hengelaars vanaf Sandveld, Sloep, Noordwes en Verlatenkraal kan deelneem. Bote lanseer vanaf Noordwes.

The Courier Guy is weer die naamregborg en borg die eerste prys van R100 000 vir die langste karp, en R50 000 vir die langste baber.

LEES OOK: Hengelaars trek groot pryse by 24ste Bloemhofdam Bonanza uit

Pryse in talle afdelings en kompetisies te wen

Afgesien van die talle kontantpryse is meer as R100 000 se hengelgerei-pryse in die senior afdeling geborg, asook hengelgerei-pryse in die vroue- en junior afdeling. Die gewilde spankompetisie vind weer plaas, waarin R20 000 op die spel is, en hengelaars met gestremdhede ding vir ‘n prys van R3 500 mee. Gelukstrekkings vind plaas, waarin ‘n prys van R10 000 op die spel is, asook vakansiepryse en nog ander.

Vanjaar, soos die afgelope jare, word visse nie geweeg nie, maar gemeet.

Deelnemers van ‘n vorige byeenkoms meet hul vangs en stuur die mate elektronies op ‘n selfoon na die beamptes. FOTO: Verskaf

‘n Elektroniese voorloperbord is ontwikkel waartoe elke deelnemer op sy of haar foon toegang het. Hiermee sien deelnemers deurlopend wie die voorlopers is, en of dit nodig is om hul vis amptelik deur beamptes te laat meet. Elke deelnemer meet sy vis op ‘n maatband en stuur die lengte per foon na die organiseerders.

Die Plastics SA Hou die dam skoon-kompetisie – om die oewers skoon agter te laat – vind ook weer plaas.

  • Die hengelkaartjies beloop R350 per volwassene en R150 vir juniors (o.13-jaar). Deelnemers kan ook vir die spannekompetisie teen R240 vir ‘n span van vier deelnemers inskryf. 
  • Deelnemers kan hulle op justsc.co.za registreer – dit skakel wagtye by die hekke uit.
  • Koop ook kaartjies by Die Viskas in Bloemhof, en Campers Outdoor Centre in Klerksdorp.
  • Besoek bloemhofbonanza.com vir meer besonderhede.
Jaco van der Walt (persoon wat die wenkarp van 75cm gevang het), Johan Potgieter (wat die “monsterbaber” van 147cm en 27,33kg gevang het) en Bernard Venter (van Eco-Care Trust) in 2025. FOTO: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article