BETHLEHEM – Die Oos-Vrystaat bruis van opgewondenheid nadat Bethlehem as die Vrystaat se finalis in Kwêla op kykNET se gewilde Dorp van die jaar-kompetisie aangewys is.
Die aankondiging is op Sondag 21 Junie gemaak, waarna die stemlyn geopen is. Inwoners van die Vrystaat, voormalige inwoners en almal wat ‘n sagte plekkie vir die Oos-Vrystaat het, word nou aangemoedig om hul steun te wys deur vir Bethlehem te stem.
Ondersteuners kan ‘n SMS met die woord “Bethlehem” na 33157 stuur teen R1,50 per SMS. Tot 30 stemme per telefoonnommer word toegelaat, wat elke ondersteuner die geleentheid bied om ‘n betekenisvolle bydrae tot die dorp se veldtog te lewer. Die stemproses sluit op Sondag 12 Julie.
Bethlehem se plek onder die finaliste volg op ‘n merkwaardige herlewing die afgelope jaar. Deur die toewyding van die Make Bethlehem Beautiful-beweging, plaaslike ondernemings, gemeenskapsorganisasies, die plaaslike munispaliteit en inwoners wat hande gevat het, het die dorp nuwe lewe en trots gekry. Projekte wat daarop gemik is om Bethlehem te verfraai, te ontwikkel en sy unieke karakter uit te bou, begin nou duidelik vrugte afwerp.
Verdere steun word gebied deur Ignite and Revive van Kroonstad, wat al meer as ‘n dekade lank by gemeenskapsontwikkeling betrokke is. Die organisasie het in 2022 ‘n sleutelrol gespeel toe Kroonstad as Kwêla se Dorp van die jaar gekroon is en deel nou ervaring en kundigheid.
Met sy ryke geskiedenis, vriendelike gemeenskap en skouspelagtige ligging aan die voet van die Witteberge bly Bethlehem een van die Vrystaat se gewildste bestemmings. Die dorp trek jaarliks duisende besoekers wat die natuurskoon, gasvryheid en karakter van die gebied kom ervaar.
Die wenner van die kompetisie sal benewens die gesogte titel ‘n bemarkingsprys van R1 miljoen van kykNET wen. Die dorp sal ook landwye blootstelling kry wanneer die feestelike vieringe en kroningsgeleentheid op televisie uitgesaai word.
Gemeenskapsleiers glo dat die kompetisie veel meer as net ‘n titel verteenwoordig. Dit bied ‘n kans om die dorp, sy mense en die hele Oos-Vrystaat op ‘n nasionale platform ten toon te stel.
Nou is dit tyd vir Vrystaters om saam te staan en hul stem te laat tel. Elke stem bring Bethlehem een tree nader aan die geleentheid om as Suid-Afrika se gewildste dorp gekroon te word.





