CLARENS – Vrystaat Landbou (VL) het ernstige kommer uitgespreek oor ’n uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) wat die afgelope naweek in Lesotho aangemeld is.
In ‘n nuusverklaring wat op Woensdag 25 Februarie uitgereik is, sê die VL die uitbreking is sowat 15km vanaf Clarens, in die Golden Gate- Hoogland Nasionale Park se omgewing. Bek-en-klouseer is onder ’n trop van 17 beeste bevestig, waarvan sewe positief getoets is. Inenting is glo reeds begin, maar die omvang van die veldtog en die betrokke virusstam is nog nie bekend nie.
Dr. Jane Buys, veiligheid- en risiko-analis van die VL, waarsku dat die uitbreking die risiko vir grensboere aansienlik verhoog. Sy beklemtoon dat oorgrensmisdaad – veral veediefstal deur sindikate langs die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho – reeds dekades lank ‘n voordurende probleem is.
LEES OOK: Veiligheid opgeknap
“Die groot aantal rondloperdiere wat in padreserwes en dorpsgebiede van 13 grensdorpe aangetref word, en wat vanuit Lesotho afkomstig is, verhoog die gevaar van verdere verspreiding van bek-en-klouseer,” sê Buys.
Nog ‘n groot knelpunt is die gebrek aan voldoende skutgeriewe langs die grens. Tans is daar slegs een werkende skut in die Vrystaat langs die hele grenslyn, wat vanuit die Harrismith-en-Qwaqwa-gebied bedryf word. Hoewel daar sprake is dat skutte moontlik in Ficksburg en Zastron geopen kan word, bestaan nog geen sekerheid daaroor nie. Die skut in Ladybrand, waarheen die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) voorheen diere geneem het, is nie meer in werking nie.
Volgens die VL versuim plaaslike munisipaliteite om hul grondwetlike verpligting na te kom om voldoende skutgeriewe te voorsien. Daarbenewens het kwarantynskutte vir die hantering van dieresiektes – wat onder die verantwoordelikheid van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling val, oor dekades nog nie verwesenlik nie.
Die organisasie wys verder daarop ‘n standaard-prosedure tussen die departement, die SANW, die SAPD en boere oor die hantering van vee wat Suid-Afrika vanuit Lesotho binnekom, is steeds nie gefinaliseer nie. Volgens Buys hou hierdie leemte direk verband met die risiko van verdere verspreiding van dieresiektes.
Die VL het bevestig dat ‘n grensbeveiligingsforum-vergadering op 26 Februarie in Ladybrand onder leiding van die SANW sou plaasvind. Belanghebbendes, insluitend grensowerhede, die SAPD, landbougemeenskappe en Lesotho se eweknieë, sal versoek word om verskerpte operasies en gesamentlike optrede te bekagtig om veediefstal, rondloperdiere en onwettige oorgrensweiding daadwerklik aan te spreek.
Die VL doen ’n dringende beroep op alle owerhede om oorgrensmisdaad en verwante voorvalle as ‘n voorkeursaak te hanteer. Volgens die organisasie is die veiligheid van veekuddes én die voortbestaan van grensboere in gedrang.
Boere word intussen aangemoedig om beweging na en van hul plase streng te moniteer. Hulle word gevra om verdagte of onwettige aktiwiteit onmiddellik by die SAPD en SANW aan te meld en formeel bystand te versoek.





