” ‘n Munisipale begroting is meer as net syfers op ‘n balansstaat – dit is ‘n morele verklaring van ‘n munisipaliteit se prioriteite.”
Dít was raadslid William Morrison van die Patriotiese Alliansie (PA) se stelling tydens die bespreking van die munisipale begroting wat tydens ‘n spesiale raadsvergadering op Donderdag 28 Mei met 18 teenoor 5 stemme aanvaar is.
Marius Koen, uitvoerende burgemeester, het die driejaarbegroting ter waarde van R7,7 miljard aangebied. Dit bestaan onder meer uit R6,4 miljard vir bedryfsuitgawes en R1,3 miljard vir kapitaalbesteding. Bykans twee derdes (64%) van die begroting gaan aan infrastruktuur bestee word.

Die PA het die begroting verwerp omdat dit “nie die armstes ‘n lewenslyn bied nie”, aldus Morrison. Dit is ook verwerp deur die ANC en die EFF terwyl raadslid Mzandile Simon Biko van uMkhonto weSizwe (MK) buite stemming gebly het.
Die DA, Good, Vryheidsfront Plus en die Truth and Solidarity Movement (Truth) het dit aanvaar.
” ‘n Groot besprekingspunt onder ons inwoners vanjaar was die nuwe eiendomswaardasies. In 2025 het die munisipaliteit ‘n onafhanklike waardeerder aangestel om al die eiendomme in ons munisipale gebied te waardeer. Die eiendomswaardes het gemiddeld met 50% gestyg sedert die laaste waardasie in 2021 gedoen is – van R51 miljard in 2021 tot R77 miljard in 2025,” het Koen gesê.
Hy het daarop gewys dit beteken ‘n inkomste van R399 miljoen in 2026/27, teenoor R385 miljoen voorheen. “Gegewe die hoë groei in eiendomswaardes, het die Raad besluit om die groei in eiendomsbelastinginkomste vir 2026/27 te beperk.”
Die PA het verder kommer uitgespreek oor ‘n bedryfsoorskot (surplus) van sowat R30 miljoen oor drie jaar. Morrison het ook gewys op die swaar las van werknemerkoste (R639 miljoen) en grootmaataankope van elektrisiteit (R578 miljoen) op die bedryfsuitgawes. Hy het vrae gevra oor die 11% verlies in elektrisiteit en die kragpremie wat meer Eskom se tariewe is.
Heinrich Mettler, munisipale bestuurder, het die PA uitgenooi om met bewyse oor die “verliese” vorendag te kom.
Die kapitaalbegroting word hoofsaaklik befonds deur kapitaalvervangingsreserwes (70%, ongeveer R923 miljoen), eksterne lenings (18%, ongeveer R231 miljoen) en regeringskussingelde (12%, ongeveer R155 miljoen).
Stefan Vorster, munisipale finansiële bestuurder, het die rasionaal vir lenings verduidelik, naamlik dat dit gebruik word vir inkomste-genererende dienste soos water, en beklemtoon dat versigtigheid aan die dag gelê word oor lenings en bekostigbaarheid.
Behuising en informele nedersettings
Skerp kritiek is uitgespreek oor die stadige vordering met behuisingsprojekte en die formalisering van informele nedersettings. Die ANC, by monde van raadslid Theresa Rossouw, het beswaar gemaak oor die afwesigheid van subsidies vir informele nedersettings.
Volgens die behuisingsbegroting van R193 miljoen wat oor drie jaar bewillig is, is R62 miljoen vir dienste en R131 miljoen vir huise geoormerk. Die munisipaliteit is egter grootliks afhanklik van provinsiale behuisingsubsidies.
Tariewe en verligting vir armes
Volgens Koen staan die huidige bevolking van die SBM op net meer as 161 000 wat meer as 53 000 huishoudings insluit, waarvan geregistreerde behoeftige huishoudings meer as 8 000 uitmaak.
Huishoudings met ‘n gekombineerde inkomste van minder as R6 000 kry 100%-subsidie en diegene met ‘n inkomste van tussen R6 000 en R6 800 kry ‘n subsidie van 70%. Verligting vir behoeftiges sluit in 50 eenhede gratis elektrisiteit per maand, 6 kiloliter water per maand en ‘n verhoogde vrystelling vir eiendomsbelasting van R250 000 tot R350 000 (vanaf 1 Julie 2026).
Tariefverhogings vir die res van die belastingbetalers beloop 3,7% vir algemene dienste soos eiendomsbelasting, water, sanitasie en vullisverwydering. Elektrisiteit styg egter met ongeveer 9,2%.
Koen het benadruk dat ‘n omvattende openbare deelnameproses oor die begroting gevolg is, met 17 afsonderlike vergaderings in alle wyke in April 2026. “Insette is by ‘n spesiale begrotingswerkswinkel in Mei oorweeg.”
Opposisiepartye se reaksie
Rossouw het verder kritiek uitgespreek oor tariefverhogings gegewe die vlak van armoede, en vrae gevra oor ontbrekende subsidies vir informele nedersettings, sosio-ekonomiese ontwikkeling en sport. Die ANC het nie die begroting aanvaar nie.
Die EFF het aangedui dat hulle nie die begroting ondersteun nie en het versoek dat meer uitgebreide per-dorp begrotingbesonderhede verskaf word.
Nuut-ingewyde raadslid vir die Vryheidsfront, Jansen, het die begroting namens sy party goedgekeur, maar meen ‘n geleentheid word gemis deur Hopefield “voortdurend na die agterkant van die begroting te skuif. Ons mis een van die grootste geleenthede vir werkskepping aan die Weskus,” het hy gesê en verwys na dié dorp se historiese betekenis as die oudste dorp in die gebied.





You must be logged in to post a comment.