Lt-Generaal Nhlanhla Mkhwanazi, die provinsiale polisiehoof van KZN, en Peter Stoffberg van ­#piemphulle het idees tydens die beraad uitgeruil.

Atlantis se #Piemphulle lê plan teen bendes voor parlement

Lt-Generaal Nhlanhla Mkhwanazi, die provinsiale polisiehoof van KZN, en Peter Stoffberg van ­#piemphulle het idees tydens die beraad uitgeruil.

Die Atlantis-gemeenskap, onder leiding van Peter Stoffberg, Louisa Solomon en die #Piemp­hulle-Facebook-groep, het ‘n omvattende plan teen bendemisdaad aan die parlementêre portefeuljekomitee oor die polisie voorgelê. Die voorstel is op Woensdag 19 Augustus tydens die komitee se bendegeweldberaad, wat deel van die parlement se ondersoek na bendeverwante geweld is, bespreek.

Die voorstel fokus op dwelmhandel, bendebedrywighede en geweld en vra vir ‘n meer gekoördineerde ­benadering deur wetstoepassingsagentskappe, skole, behuisingsowerhede en gemeenskappe.

Die gemeenskap vra vir vinniger optrede teen inwoners wat stads- of staatshuisvesting vir dwelmhandel en bendebedrywighede gebruik.

Die voorstel doen ‘n beroep op behuisingsowerhede en die polisie om nouer saam te werk om uitsettingsaansoeke vinniger te hanteer wanneer bewyse van misda­dige aktiwiteite daar ontdek word.

Rolspelers uitgewys

Plaaslike behuisingskantore, woonstelkomitees, gemeenskapspolisiëringsforums en gemeenskapsaktiviste is as rolspelers uitgewys, wat kan help om bewyse en verklarings te versamel.

Skole word in die voorstel as ‘n gebied geïdentifiseer waar bende­werwing en dwelmhandel volgens die gemeenskap aandag verg. Die voorstel vra vir geteikende klopjagte en beter samewerking tussen wetstoepassings­agentskappe en skole om dwelms, wapens en ander bendebedrywighede vas te vat.

Die voorstel vra ook dat buurtwagte, straatkomitees, woonstelkomitees en inwoners meer by die bekamping van bendemisdaad betrokke moet wees. Dit beklemtoon die behoefte aan beter beskerming van getuies in ernstige bendemisdaadsake, met versterkte getuiebeskerming, vinniger hervestiging en beskerming van getuies se families as moontlike maatreëls.

Ondersoek hulle!

Die gemeenskap vra verder vir intelligensiegedrewe ondersoeke na vermeende bende- en dwelmbase, asook die beslaglegging op bates wat vermoedelik uit misdadige aktiwiteite verkry is. ‘n Gespesialiseerde eenheid om belastingontduiking en bateverbeuring te ondersoek, word ook voorgestel.

Die voorstel vra vir ‘n gestruktureerde polisie-bedryfsplan met weeklikse en maandelikse skedules vir geteikende klopjagte, huissoektogte, die opspoor van verdagtes en gebiedsoperasies.

Die dokument stel ook die digitalisering van die registrasie en monitering van strafsake voor, insluitend digitale verklarings, biometriese identiteitsverifikasie en ‘n elektroniese stelsel waardeur inwoners die status van sake kan monitor.

Die voorstel beklemtoon die behoefte aan samewerking tussen die polisie, regering, munisipale strukture, skole, gemeenskapsorganisasies en inwoners in die bekamping van bendemisdaad in en om Atlantis.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 25 August 2026
    WeskusNuus E-Edition – 25 August 2026

Gift this article