ANC verloor 50 wyke in tussenverkiesings sedert 2021; politiek toenemend streeksgebonde, sê kenner

Kiesers raak meer wispelturig, sê senior lektor by Militêre Akademie. FOTO: Element5 Digital | Unsplash
Kiesers raak meer wispelturig, sê senior lektor by Militêre Akademie. FOTO: Element5 Digital | Unsplash

ANC verloor 50 wyke in tussenverkiesings sedert 2021; politiek toenemend streeksgebonde, sê kenner

Kiesers raak meer wispelturig, sê senior lektor by Militêre Akademie. FOTO: Element5 Digital | Unsplash
Kiesers raak meer wispelturig, sê senior lektor by Militêre Akademie. FOTO: Element5 Digital | Unsplash

SALDANHA – Die ANC het 66 munisipale wyke verloor en 16 gewen sedert die 2021-verkiesing, terwyl politieke partye toenemend volgens streeks- en identiteitsgrense versprei.

Só het dr. Clive Coetzee, ‘n senior lektor aan die Fakulteit Krygskunde aan die Militêre Akademie in Saldanha, op Woensdag 13 Mei op die Weskus-sakekamer se maandelikse netwerkvergadering by die Saldanha-hotel gesê.

Coetzee, wat 424 wyk-tussenverkiesings sedert 2021 tot 17 April vanjaar ontleed het, het bevind dat Suid-Afrika se politieke landskap dramaties verander en dat kiesers toenemend wispelturig word.

“Ons sien ‘n duidelike regionalisering van Suid-Afrika. Dit is nie meer ‘n reënboognasie nie – dit word uiteenlopende stamme,” het hy gesê.

Groot verskuiwings sedert 2021

Volgens Coetzee se analise het die ANC in 2021 sowat 253 wyke beheer, maar dit het tot 203 wyke teen die einde van April 2026 gekwyn – ‘n verlies van 50 wyke, hetsy direk of deur koalisie-ooreenkomste.

“Die ANC het slegs 16 wyke gewen, maar 66 wyke verloor oor hierdie tydperk. Dit is ‘n beduidende afname,” het hy gesê.

Die DA, daarenteen, het stabiel gebly op 114 wyke.

“Hulle het 18 gewen, maar ook 18 verloor, so hulle is terug waar hulle in 2021 was.”

Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) het dramatiese groei getoon en sy wyke van 24 na 48 verdubbel, hoewel hy ook 27 wyke aan die MK-party verloor het.

Die Patriotiese Alliansie (PA) het van vier wyke na 24 gegroei, terwyl die EFF 11 wyke gewen en slegs twee verloor het.

Duidelike provinsiale patrone

Wes-Kaap

Coetzee voorspel ‘n strawwe tweeperdwedloop tussen die DA en die PA in die Wes-Kaap in November se munisipale verkiesing, maar meen die DA sal tog wel op die ou end seëvier.

“Die ANC het links en regs klappe gekry – hulle het slegs een wyk gewen, maar 11 verloor.”

KwaZulu-Natal

Coetzee voorspel hier nog  ʼn tweeperdwedloop, die keer tussen die IFP en die MK-party (die uMkhonto we Sizwe Party).

“Die dae van die ANC is daar verby. Hulle het slegs vier wyke gewen maar 27 verloor.”

Noord-Kaap

“Die PA is baie sterk – hulle het vyf wyke gewen. Die DA het grond verloor in die Noord-Kaap en die PA het dit opgepik.”

Noord-Wes en Mpumalanga

“Ons sien die EFF redelik sterk daar. Die ANC beweeg effens weg van die ANC na die EFF toe.”

Limpopo, Oos-Kaap, Gauteng en Vrystraat

Die gebiede bly sterk ANC-ondersteunde gebiede, terwyl daar in Gauteng ‘n stryd tussen die DA en die ANC woed.

“Dis hier waar die kleiner partye ‘Kingmakers’ gaan word.”

Coetzee meen verder die ANC gaan steeds sterk, maar met minder steun, in die Vrystaat staan, met die EFF wat moontlik daar veld gaan wen.

Volgens Coetzee se data het die ANC ‘n oorwinningsyfer van ongeveer 40% in onlangse tussenverkiesings gehad, terwyl die DA op ongeveer 25-26% staan.

“Die uitskieters gaan die PA en die MK wees. Hulle het beduidende groei oor die afgelope jaar getoon, maar sterk streeksgebonde, nie soveel nasionaal nie.”

Coetzee het gesê die PA wen 90% van die tyd die tussenverkiesing waar hulle vir ‘n wyk staan, maar hulle is baie strategies oor waar hulle kandidate beskikbaar stel.

Identiteitspolitiek en wispelturige kiesers

Coetzee waarsku dat identiteitspolitiek – gebaseer op ras, geslag en streek – toenemend belangrik word.

“Dit word baie, baie gelokaliseer. Dit is minder oor beleid en sulke dinge, meer oor wie jy is.”

Hy het die gevaar uitgewys van die ideologie dat mense vanweë hul ras of selfs taal oor een kam geskeer word: “Dit is baie, baie gevaarlik.”

Hy het ook bendaruk kiesers word toenemend vlugtig en beweeg tussen partye.

Kiesers het van een uiterste na ‘n ander gegaan: van blinde lojaliteit aan ʼn party na wispelturigheid oor hul keuse van party.

Die belangrikheid van plaaslike kandidate as individue neem dus toe, het Coetzee benadruk.

“As Piet ANC was en Piet skuif na die DA, is die kanse goed dat Piet ook vir die DA-kant sal wen. Dit maak nie saak of dit DA of PA is nie – die party op sigself word minder relevant en die individu word meer en meer relevant.”

Voorspellings vir November 2026

Coetzee voorspel dat die ANC waarskynlik sal aanhou verloor, die IVP sal konsolideer in KZN, en koalisie-politiek sal bly.

“Die kwessie van koalisiepartye sal by bly. Ek kan nie sien dat dit verander nie, en dit sal al hoe meer gebeur.”

Hy beskou die mededingende politieke landskap as uiters goed vir die demokrasie.

“Ek dink nie die politieke landskap was vir ‘n lang, lang, lang tyd só opwindend nie, en dit is baie, baie goed. Om soveel kompetisie te hê beteken dat politieke partye nie net kan aanvaar dat kiesers vir hulle gaan stem nie.”

Coetzee het wel beklemtoon dat hy nie ‘n politieke guru is of aan enige party gekoppel is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article