PAARL – ‘n Allandale-gevangene, vermoedelik in sy twintigs, wat Dinsdagoggend (9 September) ontsnap het, het homself by ‘n woning in Patelstraat in Smartie Town, Paarl-Oos om die lewe gebring.
Na aanleiding van boodskappe wat op ‘n plaaslike nooddiensgroep gestuur is, kon Paarl Post aflei dat die polisie en bewaarders omstreeks 10:30 na die jong man begin soek het.
Sy identiteit kon ten tyde van publikasie nie bevestig word nie.
Luidens gerugte op sosiale media is die man vermoedelik van Amstelhof, Paarl-Oos.
Bewaarders en polisielede het Dinsdag gebiede in onder meer Amstelhof, Smartie Town en Groenheuwel te voet gefynkam.
Paarl Post was in Smartie Town toe rasende inwoners na Patelstraat omstreeks 12:20 gehardloop het.
Hoewel dit nog deur die polisie bevestig moet word, het die bewaarders op die toneel vir mekaar gesê dat die jong man homself gehang het.
*Hierdie is ‘n ontwikkelende storie. Hou Paarl Post dop vir meer.





