‘n Beurs, gestig ter ere van die ontslape, bekroonde Suid-Afrikaanse aktrise Crystal Donna Roberts, gaan studente wat in kunsverwante rigtings aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) wil studeer, ondersteun.
Die Crystal Donna Roberts-beurs is vroeër vanjaar tydens ‘n geselligheid van die UV en die Vrystaat Kunstefees bekend gestel. Aansoeke vir die beurs is nou oop.

Die beurs is bedoel om huidige én voornemende nagraadse studente te ondersteun wat hul studies in ’n kunsverwante rigting binne die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die UV wil voortsit. As ’n behoefte- én merietebeurs erken dit sowel akademiese en artistieke potensiaal in die rol wat geldelike ondersteuning kan speel om verdere studie moontlik te maak.
Roberts was ’n oud-student aan die UV. Sy is verlede jaar aan kanker dood.
Michael Garbett, feesdirekteur van die Vrystaat Kunstefees, sê Roberts het met haar talent, integriteit en toewyding ’n onuitwisbare indruk op die Suid-Afrikaanse kunste gelaat.
“Dit is vir die Vrystaat Kunstefees ’n besondere voorreg om saam met die Universiteit van die Vrystaat hierdie beurs oop te stel. Ons glo die beste manier om haar nalatenskap te eer, is om nuwe geleenthede vir kunstenaars, navorsers en kreatiewe denkers te skep. Hierdie beurs is ’n belegging in die volgende geslag stemme wat ons kulturele landskap gaan vorm, en ons sien daarna uit om hul reis deel te wees,” sê hy.
Hoewel die beurs Crystal Donna Roberts se naam dra, is dit nie slegs vir akteurs of uitvoerende kunstenaars bedoel nie. Studente wat nagraadse studie in ’n breë verskeidenheid kunsverwante dissiplines binne dié fakulteit wil aanpak, word aangemoedig om aansoek te doen.
Aansoekers moet onder meer ’n voltooide aansoekvorm, volledige curriculum vitae, akademiese rekord, ’n motiveringsbrief, twee verwysingsbriewe, bewys van aansoek of toelating tot ’n UV-nagraadse program, asook toepaslike portefeuljes of ander ondersteunende materiaal indien waar van toepassing. Bewys van finansiële omstandighede vorm ook deel van die aansoekproses.
Aansoeke sluit op 30 Septembe om 23:59, waarna ’n keurkomitee die aansoeke sal beoordeel op grond van meriete, potensiaal, motivering, beoogde bydrae tot die kunste en finansiële behoefte. Die suksesvolle kandidaat sal op 13 Oktober 2026, Crystal Donna Roberts se verjaardag, aangekondig word.
Volledige besonderhede oor die beurs, die toelatingsvereistes en die aanlyn aansoekproses is op die Vrystaat Kunstefees se webblad beskikbaar. www.vrystaatkunstefees.co.za.






You must be logged in to post a comment.