ATLANTIS – Die 29-jarige vrou wat daarvan aangekla word dat sy nie die seksuele mishandeling van haar tienerdogter aangemeld het nie, het gister (Dinsdag 19 Mei) in ’n stampvol hofsaal verskyn waar raadslede, politieke partye en gemeenskapsorganisasies hul teenwoordigheid laat geld het.
Die elfjarige tienermeisie het twee weke gelede geboorte geskenk aan ‘n babaseun.
Die vrou se aansoek om borgtog gaan vandag voort. Die hof het petisies uit twee oorde gekry: gemeenskapslede en familie wat versoek dat die vrou borgtog kry en diegene wat dit teenstaan.

Die verdediging het gister verskeie verklarings van vriende en familie voorgelees wat volgens hulle aandui dat sy borgtog verdien. ’n Petisie van inwoners wat haar borgaansoek ondersteun, is ook aan die hof oorhandig.
Die vrou het tydens haar getuienis geweier om oor die meriete van die saak uit te brei en het op die meeste van die staat se vrae bloot net geantwoord: “Geen kommentaar.”
Die beskuldigde, wat vroeër ook in die kinderhof verskyn het, het emosioneel geraak toe die aanklaer die hof meegedeel het dat die elfjarige meisie en haar baba deur maatskaplike werkers in ’n plek van veiligheid geplaas is.
Die staat het verder aangevoer dat maatskaplike werkers sal getuig dat hulle deur die beskuldigde gedreig is met die woorde dat hulle “sal sien wat met hulle sal gebeur” toe hulle aanvanklik die elfjarige kom haal het.
Aanklaer Gino Simon het ook aan die hof gesê die beskuldigde het volgens die staat niks gedoen om die mishandeling te stop nie en het haar kêrel ten alle koste probeer beskerm. Die vrou het ook hierop gereageer met: “Geen kommentaar.”
Die staat gaan later vandag met kruisondervraging voortgaan en nog getuies roep.
- Die beskuldigde se kêrel, wat na bewering die elfjarige kind swanger gemaak het, kom weer op Dinsdag 26 Mei voor op aanklag van onder meer kinderverkragting.







You must be logged in to post a comment.