The Western Cape Government is tackling FMD head op.
‘n E-pos vanuit die minister van landbou se kantoor het landboubetrokkenes warm om die kraag.

Bek-en-klouseer ramp ‘laakbaar geminag’ deur e-pos uit minister se kantoor

The Western Cape Government is tackling FMD head op.
‘n E-pos vanuit die minister van landbou se kantoor het landboubetrokkenes warm om die kraag.

‘n Uitgelekte e-pos wat vanuit die minister van landbou se kantoor gestuur is, is besig om ‘n verdere opskudding in die landbougemeenskap oor dié departement se hantering van bek-en-klouseer te veroorsaak.

Dié e-pos wat tans wyd versprei word is gerig aan die direkteur-generaal vir landbou, Ramasodi Mooketsa, en die betrokke adjunk-direkteur-generaal, Dipepeneneng Serage, met die opmerking: “Attached just receive for some amusement”.

Dit is op Woensdag 3 Junie deur die minister se stafhoof, Jana le Roux, gestuur.

In dié skrywe word ‘n e-pos vanaf ‘n landbougroep – FMD Response SA – wat interaksie vra rakende die departement van landbou se inentingstrategie teen bek-en-klouseer, aangestuur. Die titel in die onderwerplyn is “Request for Engagement op South Africa’s Foot and Mouth Disease Vaccination Strategy”.

FMD Response SA word deur ‘n komitee bestuur wat uit die veewaardeketting oor die hele land heen saamgestel is. Hierdie e-pos was nie hul eerste kommunikasie aan die ministerie van landbou nie.

“Indien hierdie e-pos eg is, bevestig dit ‘n persepsie dat minister Steenhuisen, sy ministerie en sy departement nie die insette van die landbousektor in hierdie krisis ernstig opneem nie. Inteendeel, dit dui op diepliggende en laakbare minagting,” sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Landbou.

“Die VF Plus eis dat hierdie e-pos ondersoek word en indien dit eg is, daar teen die amptenaar opgetree word. Bek-en-klouseer is allermins ‘n grap. Dit is ‘n ramp van enorme omvang. Dit is egter nie voldoende om van ‘n enkele amptenaar ‘n sondebok te maak nie. ‘n Hele kultuurverandering in die departement is noodsaaklik; iets wat moeilik sal plaasvind sonder dat nog koppe rol,” sluit Boshoff af.

‘Klap in die gesig’ van elkeen wat deur krisis geraak word

In sy kommentaar sê AfriForum dié opmerking in die e-pos is ’n klap in die gesig van elke boer wat tans deur dié krisis geraak word. Dié voorval dien as nog ’n bewys waarom boere vertroue in die departement se hantering van die krisis verloor en toenemend daarop aandring om by die inentingstrategie betrek te word, sê dié burgerregte-organisasie.

Terwyl boere probeer om hul kuddes te red en hul lewensbestaan te beskerm, word hul bekommernisse in die hoogste kringe van die departement afgelag.

– Lambert de Klerk

“Dit is onaanvaarbaar, ongevoelig en bevestig die dringende behoefte aan ’n ander benadering in die hantering van bek-en-klouseer,” sê Lambert de Klerk, bestuurder: Omgewingsake by AfriForum.

“Boere vra nie vir simpatie nie, maar vir dringende optrede, toegang tot entstowwe, duidelike riglyne, spoedige besluitneming en ruimte vir die privaatsektor om te help. AfriForum eis daarom dat die minister dadelik die privaatsektor, landbougroepe en privaatveeartse volwaardig by die verkryging, verspreiding en toediening van entstowwe betrek,” sê De Klerk.

AfriForum meen die huidige skade en risiko van herbesmetting kon waarskynlik beperk of selfs voorkom word as die regering van die begin af ruimte gemaak het vir boere, privaatveeartse en die landboubedryf om deel van die oplossing te wees.

“Die gesentraliseerde benadering wat gevolg is, was te stadig, te rigied en te verwyderd van die werklikheid op plase.”

LEES OOK: Steenhuisen’s FMD failures keep landing back op Hill-Lewis’s desk

Die departement se monopolie oor die verkryging en verspreiding van entstowwe, tesame met gebrekkige kommunikasie en onduidelike voldoeningsvereistes, plaas verdere druk op boere wat reeds onder geweldige spanning verkeer. Boere kan nie gedwing word om deel te neem aan ’n stelsel waarvan die koste, tydlyne en praktiese implikasies steeds onseker is nie.

“Die tyd vir minagting en gesentraliseerde beheer is verby. Boere se kuddes, lewensbestaan en die land se voedselsekerheid kan nie verder die prys betaal vir ’n staat wat te min luister en te stadig optree nie,” sluit De Klerk af.

‘Boodskap in slegte smaak’

Kommentaar is nog nie vanaf die ministerie van landbou ontvang nie. Die minister het wel op 9 Junie op X ‘n boodskap geplaas en erken dat die e-pos “in bad taste” hanteer is en gesê dat hy die betrokke persoon versoek het om verskoning te vra, en bygevoeg dat samewerking die enigste manier is om struikelblokke in die sektor te oorkom.

FMD Response SA het op dieselfde platform gesê dat die verskoning aanvaar is.


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article