BLOEMFONTEIN – Kyk, as ‘n mens so na die spyskaart kyk vir Saterdag 6 Junie se WildsKOSFees, dan water jou mond behoorlik.

Oudergewoonte het Gerhard en Marie Lombaard en hul span van De Oude Kraal die afgelope maande hul navorsing gedoen met kombinasies en smake om honderde onvergeetlike happies voor te sit.

Die skaapplaas buite Bloemfontein bied vanjaar die 26ste keer dié fees aan waar gaste aan meer as 120 unieke geregte kan proe. Dit sluit 12 verskillende wildskosstalletjies in, sowel as vanjaar se hoogtepunt – ‘n buffel op die spit.

As jy nog nooit op die WildsKOSfees was nie, sal jy ‘n plan moet maak. Dit is nie net ‘n rits interessante wildskosgeregte nie – elke stalletjie bied ‘n kombinasie van smake wat jou gaan verras.

Nie net kan jy kom proe aan krokkodil in bottersous en ystervarkvel gemarineer in kerriesous nie, jy kan kom proe aan buffel wat op die spit gaargemaak is.

Jay is die kunstenaar op Saterdag 6 Junie se WildKOSfees
Jay is die kunstenaar op Saterdag 6 Junie se WildKOSfees. FOTO: Verskaf

Almal wat al Marie se wildvleiswors geproe het, sal weet dat dit wonderlik sappig en baie geurig is. So kan jy proe aan springbokwors met lemoen, olyf en roosmaryn of truffel en sampioen-takbokwors.

Dit is nie net die wildsvleis wat geurig oor die kole voorberei gaan word nie, maar daar is ook skaapvleis (op die spit en skaapkop), hoender, vis met suurlemoensous en ‘n mosselpotjie met witwynknoffelroomsous asook vark op die spit.

Daar is ook die heerlikste tuisgebakte brode en broccoli- en ook botterskorsiesop.

Natuurlik is dit net die een helfte van die lekkerte, met wyne van Spier, Kleine Zalze, Raats Family Wines, Kranskop, Jakkalsvlei, Groote Post, Van Loveren en vele meer wat nie net geproe kan word nie, maar te koop aangebied word. Kom proe en koop Saterdag die lekkerste wyn vir jou eie voorraad Suid-Afrikaanse wyn.

Jay is vanjaar die gaskunstenaar op die WildsKOSfees. Saam met plaaslike kunstenaars gaan hy seker maak dat daar ‘n lekker musiek is waarop gaste kan kuier, eet en selfs dans vir die wat wil.

Benewens die musiek en kuier, is daar ook mini-gholf, skiet, kuttel-spoeg en ander aktiwiteite waaraan gaste kan deelneem.

Kaartjies is nog vandag en môre beskikbaar op deoudekraal.com, by Delta-drankwinkel in Westdene, Daisy & Co in Prellerplein en by Crazy Daisy in Fleurdal Mall.

Die fees duur Saterdag van 10:00 tot 16:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article