PARYS – Die Ngwathe plaaslike munisipaliteit se hoop om die ontbinding van sy raad te keer, is vandag finaal verydel toe die konstitusionele hof sy aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys het.
Die uitspraak beëindig ‘n lang regsstryd en bevestig dat die Vrystaatse provinsiale regering by die sukkelende munisipaliteit moet ingryp. Die beslissing besorg aan AfriForum ‘n geskiedkundige oorwinning en skep terselfdertyd ‘n belangrike presedent vir gemeenskappe wat munisipaliteite oor swak dienslewering aanspreek.
AfriForum het die hof reeds in 2024 genader nadat inwoners van Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort vir jare gebuk gegaan het onder diensleweringsprobleme, vervalle infrastruktuur en bestuursmislukkings.
In sy uitspraak verlede jaar het regter J.P. Daffue bevind dat die munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge nakom nie. Die hof het daarop gelas dat die munisipale raad ontbind moet word en dat die provinsiale regering sonder versuim moet ingryp.
Die munisipaliteit het daarna vergeefs probeer om die uitspraak om te keer deur eers die hoogste hof van Appèl en daarna die konstitusionele hof te nader. Volgens Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir die Mooirivier-distrik, stuur die jongste uitspraak ‘n duidelike boodskap aan munisipaliteite wat inwoners in die steek laat.
“Vandag se uitspraak is die finale hoofstuk in ‘n saak wat blootgelê het hoe diep die verval in Ngwathe strek. Inwoners moes jare lank besoedelde water, rioolstortings, finansiële wanbestuur en gebrekkige dienslewering verduur. Die howe het herhaaldelik bevestig dat daadwerklike ingryping nodig is,” sê Pretorius. Sy meen die fokus moet nou verskuif van litigasie na herstel.
“Die inwoners van Ngwathe het lank genoeg gewag. Dit is tyd dat bevoegde mense die leisels oorneem en begin werk aan die herstel van basiese dienste en infrastruktuur.”
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, sê die uitspraak bring nuwe hoop vir inwoners wat vir jare die gevolge van swak bestuur moes dra.
“Hierdie oorwinning behoort nie aan AfriForum alleen nie. Dit behoort aan elke inwoner wat geweier het om verval as normaal te aanvaar. Mense het hul stemme laat hoor, bewyse versamel en volgehou totdat geregtigheid geseëvier het,” sê Burger.
Volgens hom bied die uitspraak ‘n geleentheid om ‘n nuwe hoofstuk vir die munisipale gebied te begin. “Ons kan nou vorentoe kyk en saamwerk om ons dorpe te herbou. Die inwoners van Parys, Vredefort, Koppies en Heilbron verdien ‘n munisipaliteit wat funksioneer, verantwoordbaar optree en dienste lewer.” Met die konstitusionele hof se beslissing is die regsproses afgehandel en rus die verantwoordelikheid nou op die Vrystaatse provinsiale regering om uitvoering aan die hofbevel te gee.






