Nog stemme gaan op ná die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se ondersoek na die Vrystaatse studentebeursskema.
In ‘n verklaring dui die SEO aan dat growwe onreëlmatighede ter waarde van R8 miljoen aan die lig gekom het na die ondersoek van die 2017/18-beursverslag. Die ondersoek het onreëlmatighede rakende betalings vir reis, akkommodasie en toelae blootgelê wat nie volgens die beursbeleid uitbetaal is nie. Die SEO het beveel dat 38 dissiplinêre verwysings teen betrokke amptenare gemaak.
Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat sê hierdie is dieselfde beursskema wat betalings aan verskeie internasionale universiteite gemaak het, waarvan een die privaat Bahcesehir-universiteit in Turkye was, van waar gewese premier Ace Magashule ‘n eredoktorsgraad ontvang het.
In die 2014/15-finansiële jaar is R107 868 000 aan internasionale instellings betaal, in die 2015/16-finansiële jaar ‘n bedrag van R117 870 228,88, in die 2016/17-finansiële jaar R147 202 996 en in die 2017/18-finansiële jaar R91 769 649.
Van die R464 710 873,88 wat oor drie jaar aan internasionale beurse bestee is, het Bahcesehir-universiteit ‘n totaal van R69 278 755 ontvang. alle studente wat van studies by hierdie internasional instellings na Suid-Afrika teruggekeer het, waarvan sommige medisyne gestudeer het, kon nie akkreditasie vir hul internasionale grade plaaslik ontvang nie. Dit verteenwoordig ook vrugtelose en verkwistende besteding.
Jankielsohn sê talle van die studente het geleenthede misgeloop en hul verwagtinge is geknak weens hierdie omstrede beurse.
“Geld wat by internasionale universiteite bestee is, sowel as misbruikte fondse, kon baie studente by plaaslike tersiêre instellings in die Vrystaat befonds het, wat hierdie geld in die provinsie sou laat sirkuleer. Elke sent van belastingbetalers se fondse moet onder die loep geneem word ten einde te verseker dat ons inwoners in die provinsie baat vind.”






