Die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) was op die toneel.
Die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) was op die toneel.

WESKUS – Die Trollope-myngroep se werkers wie nou al drie weke staak is keelvol oor onregverdighede in die werkplek.

Sedert Maandag 2 Maart het werkers van dié myngroep, wat by die Kropz Elandsfonteinmyn net buite Hopefield aangestel is, hul griewe uitgespreek oor salarisse en betalings, sowel as verskille in siekverlof en algemene verlof.

Vandag (Woensdag 18 Maart) het gemeenskapslede van Hopefield hul ondersteuning aan die werkers kom toon, wat die situasie verander het. Die pad na die ingang van Kropz is deur werkers en gemeenskapslede versper en die polisie se eenheid vir openbare orde (POPS) is glo deur Kropz ontbied.

Volgens ‘n gemeenskapslid is hulle ingelig dat POPS ontbied is omdat die situasie as intimidasie beskou word – iets wat volgens die gemeenskap glad nie die geval was nie.

“Ons het niemand op enige manier geïntimideer nie. Die polisie het aangekom en sonder enige vrae skokgranate gebruik om die groep op te breek. ‘n Gemeenskapslid is selfs seergemaak en niemand is die kans gegun om te verduidelik wat aangaan nie. Al wat ons wil hê, is om gehoor te word en om reg te maak wat verkeerd gedoen is,” sê die gemeenskapslid.

Gemeenskapslede en werkers kom naby die Kropz Elandsfonteinmyn byeen. Foto’s: Noluvu Ludidi


‘n Inwoner meen dat wat tans by die myn gebeur die hele gemeenskap van Hopefield raak.

“Ons is ‘n familiedorp en ons is hier om mekaar te ondersteun. Die polisie het geen kans gegee nie en het net op ons afgedruk. Daar was geen waarskuwing of verduideliking nie.”

Individue betrokke by die samekoms buite die myn, meen daar was vir ‘n lang tydperk gewag vir terugvoering, veral van die in bestuur.

Mark Mynard, Hoofbedryfsbeampte van Kropz Elandsbaai het in ‘n verklaring gesê dat werknemers van die myn-kontrakteur, Trollope Mining Services, het ‘n beskermde nasionale staking begin waarby hul vakbond die South African Cleaners, Security and Allied Workers Union (SACSAAWU) betrokke is, en dit is dus nie ‘n Kropz-werknemerstaking nie.

“Die huidige werkonderbreking spruit voort uit onopgeloste sake met een van ons sakevennote, Trollope, as deel van voortgesette kollektiewe bedingingsbesprekings. Ons word voortdurend deur Trollope op hoogte gehou van ontwikkelinge en herhaal dat dit nie Kropz-werknemers is wat staak nie.

“Trollope het oop gebly vir besprekings en het die vakbondleierskap formeel genooi om terug te keer na die onderhandelingstafel om oplossings vir die kwessies op ‘n gestruktureerde, billike en wettige wyse te vind. Ons glo vas dat volhoubare oplossings ontstaan ​​deur betekenisvolle betrokkenheid eerder as ontwrigting. Trollope het op Maandag 9 Maart 2026 ‘n uitsluitingskennisgewing aan alle stakende werknemers uitgereik.”

Mynard sê openbare veiligheid, insluitend die veiligheid van betogers, werknemers, kontrakteurs en die publiek, bly hul hoogste prioriteit.
“Om alle partye te beskerm en nakoming van wetlike en veiligheidsstandaarde te verseker, is toegang tot sekere operasionele areas tydelik beperk. Kritieke bedrywighede duur voort onder verhoogde veiligheidsprotokolle; die brand van bande deur die betogers hou egter ‘n beduidende veiligheidsrisiko in. Ons monitor die situasie noukeurig saam met Trollope en sal alle nodige maatreëls tref om ons werksmag, toerusting en omgewing te beskerm.”

Werkers sê hulle sien nie dat hul kwessies gehoor word of dat daar na hul veiligheid omgesien word nie, juis ná die insident met Pops.

Pops het die ingang na Kropz Elandsbaai beman.
Pops het die ingang na Kropz Elandsbaai beman.

Nog ‘n werker meen daar word taktieke gebruik en geen onderhandelinge gebeur nie. “Ons het vreedsaam bymekaar gekom. Hoekom word ons so behandel? Dit laat my wonder wat hulle regtig van ons dink?”, meen die werker.

Verbintenis tot Oplossing
Mynard voeg by dat hulle daartoe verbind bly om praktiese, wettige en wedersyds voordelige oplossings vir beide arbeids- en gemeenskapsaangeleenthede te vind.

“Ons maatskappy het ‘n lang geskiedenis van bydrae tot streeksmaatskaplike en ekonomiese groei, en ons sal voortgaan om hierdie verantwoordelikheid na te kom.
Ons doen ‘n beroep op werknemers, vakbondleiers, gemeenskapsbelanghebbendes en alle vennote om konstruktief saam met ons te werk sodat ons stabiliteit kan herstel en so gou as moontlik na normale bedrywighede kan terugkeer.

Ons waardeer die geduld van ons belanghebbendes en die breër publiek gedurende hierdie tydperk van ontwrigting. Kropz Elandsfontein sal voortgaan om opdaterings te verskaf soos ontwikkelinge ontvou.”

Werkers en die gemeenskap meen mense moet kos op die tafel kry, maar dat hulle ook op ‘n regverdige manier behandel moet word, soos bepaal deur die Basiese Diensvoorwaardeswet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article