Die Trollope-myngroep se werkers, wat nou al drie weke staak, sê hulle is keelvol vir wat hulle as onregverdighede in die werkplek beskou.
Die groep werkers meen hulle probeer al sedert Maandag 2 Maart om hul griewe oor salarisse en betalings, sowel as verskille in siekverlof en algemene verlof te laat hoor.
Die Trollope-myngroep is by die Kropz Elandsfonteinmyn net buite Hopefield aangestel.
Vandag (Woensdag 18 Maart) het gemeenskapslede van Hopefield hul ondersteuning aan die werkers kom toon, wat die situasie verder laat ontwikkel het. Werkers en gemeenskapslede het die pad na die ingang van die myn versper waarop die Weskus-polisie se eenheid vir openbare orde (POPS)glo deur die myn ontbied is.
Volgens ’n gemeenskapslid wat verkies om anoniem te bly, is hulle ingelig dat POPS ontbied is omdat die situasie as intimidasie beskou word – iets wat volgens die gemeenskap glad nie die geval was nie. “Ons het niemand op enige manier geïntimideer nie. Die polisie het aangekom en sonder enige vrae skokgranate gebruik om die groep op te breek. ’n Gemeenskapslid is selfs seergemaak en niemand is die kans gegun om te verduidelik wat aangaan nie. Al wat ons wil hê, is om gehoor te word en reg te maak wat verkeerd gedoen is,” sê die gemeenskapslid.

’n Inwoner meen dat wat tans by die myn gebeur, die hele gemeenskap van Hopefield raak. “Ons is ’n familiedorp en ons is hier om mekaar te ondersteun. Die polisie het geen kans gegee nie en het net op ons afgedruk. Daar was geen waarskuwing of verduideliking nie.”
Individue betrokke by die samekoms meen daar is vir ’n lang tydperk gewag vir terugvoering, veral van die bestuur van Trollope.
Mark Mynard, hoofbedryfsbeampte van Kropz Elandsfontein, het in ’n verklaring gesê werknemers van die mynkontrakteur, Trollope Mining Services, het ’n beskermde nasionale staking begin, waarby hul vakbond, die South African Cleaners, Security and Allied Workers Union (SACSAAWU), betrokke is. Dit is dus nie ’n Kropz-werknemerstaking nie.
“Die huidige werkonderbreking spruit voort uit onopgeloste sake met een van ons sakevennote, Trollope, as deel van voortgesette kollektiewe bedingingsbesprekings. Ons word voortdurend deur Trollope op hoogte gehou van ontwikkelinge en herhaal dat dit nie Kropz-werknemers is wat staak nie.
“Trollope het ten gunste van besprekings gebly en die vakbondleierskap formeel genooi om terug te keer na die onderhandelingstafel om oplossings op ’n gestruktureerde, billike en wettige wyse te vind. Ons glo dat volhoubare oplossings deur betekenisvolle betrokkenheid ontstaan, eerder as deur ontwrigting. Trollope het op Maandag 9 Maart 2026 ’n uitsluitingskennisgewing aan alle stakende werknemers uitgereik.”
Mynard sê openbare veiligheid, insluitend dié van betogers, werknemers, kontrakteurs en die publiek, bly hul hoogste prioriteit. “Om alle partye te beskerm en nakoming van wetlike en veiligheidsstandaarde te verseker, is toegang tot sekere operasionele areas tydelik beperk. Kritieke bedrywighede duur voort onder verhoogde veiligheidsprotokolle; die brand van bande deur betogers hou egter ’n beduidende veiligheidsrisiko in. Ons monitor die situasie noukeurig saam met Trollope en sal alle nodige maatreëls tref om ons werksmag, toerusting en omgewing te beskerm.”
Werkers sê hulle ervaar nie dat hul kwessies gehoor word of dat daar na hul veiligheid omgesien word nie, veral ná die voorval met POPS.

Nog ’n werker wat voor die myn met Weslander gepraat het, meen daar word allerhande vermydingstaktieke gebruik en dat daar geen werklike onderhandelinge plaasvind nie. “Ons het vreedsaam bymekaar gekom. Hoekom word ons so behandel? Dit laat my wonder wat hulle regtig van ons dink,” sê die werker.
Verbintenis tot oplossing
Mynard voeg by dat hulle daartoe verbind bly om praktiese, wettige en wedersyds voordelige oplossings vir beide arbeids- en gemeenskapsaangeleenthede te vind. “Ons maatskappy het ’n lang geskiedenis van bydrae tot streeksmaatskaplike en ekonomiese groei, en ons sal voortgaan om hierdie verantwoordelikheid na te kom. Ons doen ’n beroep op werknemers, vakbondleiers, gemeenskapsbelanghebbendes en alle vennote om konstruktief saam te werk sodat stabiliteit herstel kan word en bedrywighede so gou moontlik kan normaliseer.
“Ons waardeer die geduld van ons belanghebbendes en die breër publiek gedurende hierdie tydperk van ontwrigting. Kropz Elandsfontein sal voortgaan om opdaterings te verskaf soos ontwikkelinge ontvou.”
Werkers en die gemeenskap meen mense moet kos op die tafel kry, maar ook op ’n regverdige manier behandel word, soos bepaal deur die Wet op Basiese Diensvoorwaardes..





You must be logged in to post a comment.