In ‘n wêreld vol pyn en uitdagings is maatskaplike werkers nie net professionele persone nie, maar draers van hoop. Vir dié rede is sewe maatskaplike werkers van oor die land heen op Internasionale Maatskaplikewerkersdag as Hoopdraers vereer.
Dié dag, op 17 Maart, is ‘n geleentheid om erkenning te gee aan die onmisbare rol wat maatskaplike werkers in die bevordering, herstel en versterking van gemeenskappe speel. Ontvangers van dié eerbewyse van Solidariteit Helpende Hand is vroeër vanjaar deur die publiek vir hul passievolle toewyding en bereidwilligheid om die ekstra myl te stap, benoem.
Volgens Christia Potgieter, hoof van Maatskaplikewerkdienste by Solidariteit Helpende Hand, verteenwoordig die Hoopdraers die ware gees van diensbaarheid.
“Ons sewe Hoopdraers-wenners vir 2026 verteenwoordig die stille krag van maatskaplike werkers: Mense wat elke dag kies om hoop te bring waar daar moedeloosheid is en om langs die kwesbaarstes in ons gemeenskappe te stap,” sê sy. “Dit is ‘n besondere eer om hierdie maatskaplike werkers te vereer en erkenning te gee aan die diep menswaardigheid, deernis en volgehoue betrokkenheid waarmee hulle gemeenskappe versterk.”
Mari Ferreira, netwerkorganiseerder by Solidariteit, sê die Hoopdraer-eerbewys beklemtoon die waarde van maatskaplike werkers se werk in gemeenskappe.
“Hulle seën ander met empatie, toewyding en onbaatsugtige diens, dag ná dag, selfs wanneer daar geen waarborg of beloning is nie. Met elke hand wat hulle vashou, elke traan wat hulle deel en elke hart wat hulle opbou, bou hulle nie net gemeenskappe nie, hulle laat die lig van hoop in die donkerste oomblikke skyn. Met die eerbewyse vier ons nie net hul prestasies nie, maar hul menslikheid.”
Hoopdraers van 2026
- Francois Meyer – Vanderbijlpark
- Charnelle Findlay – Margate
- Gerda van der Merwe – Modimolle
- Wilma Vermeulen Crafford – Volksrust
- Louise van Zyl – Rustenburg
- Marinei Herselman – Oos-Londen
- Tobias Kleinhans-le Roux – Kuilsrivier







Gemeenskappe gereed om te help, maar wie begin?
Terwyl gemeenskappe toenemend onder druk verkeer, wys ‘n onlangse aanlynpeiling deur Solidariteit Helpende Hand dat die meerderheid mense bereid is om te help, maar dat baie steeds voel dit is “iemand anders se verantwoordelikheid”.
Die bevindings wys dat die meeste mense reeds op een of ander manier betrokke in hul gemeenskappe is. ‘n Verdere groep wil graag help, maar is onseker hoe om prakties te begin. Slegs ‘n klein minderheid dui aan dat hulle glad nie betrokke is nie.
Volgens die peiling is die grootste hindernis nie onwilligheid nie, maar die gevoel dat iemand anders eerste moet optree. Onsekerheid oor hoe om te help volg kort daarna, met emosionele uitputting en tydsdruk as verdere struikelblokke.
Lize van Zyl, maatskaplike bestuurder by Solidariteit Helpende Hand, sê die data wys dat diensbaarheid steeds ‘n sterk waarde in gemeenskappe is.

“Die oorgrote meerderheid respondente stem saam dat dit mense se waardigheid herstel as hulle die geleentheid kry om te help. Dit beteken die wil om te help is daar. Wat ontbreek, is dikwels duidelike roetes tot aksie,” sê Van Zyl.
Dit is opvallend dat respondente verantwoordelikheid vir gemeenskappe se welstand oorwegend as ‘n gesamentlike taak sien. Min glo dit rus uitsluitlik by die staat of by professionele persone. Daar is terselfdertyd sterk erkenning vir maatskaplike werkers as beskermers van kwesbares en as bouers van volhoubare verandering wat saam met gemeenskappe werk.
LEES OOK: Hoopdraer verskuif grense, bied veilige ruimte, geborgenheid
In reaksie op hierdie bevindings stuur Solidariteit Helpende Hand in Maart sy 2026 veldtog, “Diensbaarheid begin by die wil om te help”, van stapel.
Maart is Maatskaplikewerkersmaand, en op 17 Maart is Wêreldmaatskaplikewerkersdag gevier.
“Hierdie maand herinner ons daaraan dat maatskaplike werkers daagliks op die voorpunt van gemeenskapsbou staan. Ons wil nie net hul rol vier nie, maar ook die breër gemeenskap aktiveer om saam met hulle verantwoordelikheid te neem,” sê Van Zyl.
Met dié veldtog wil Solidariteit Helpende Hand gemeenskappe beweeg van ‘n ingesteldheid van “iemand moet my help” na “kom ons bou saam”.
- Volg die veldtog op Helpende Hand se Facebook-blad, Instagram en helpendehand.co.za vir meer inligting.






You must be logged in to post a comment.