Wanorde in Sol Plaatje-munisipaliteit: LUR-ingryping misluk te midde van chaos

Thapelo Matlala op 29 Januarie by die hooggeregshof in Kimberley.
Thapelo Matlala op 29 Januarie by die hooggeregshof in Kimberley. FOTO: Charné Kemp

Die Noord-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Bentley Vass, se jongste poging om die voortslepende magstryd by die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley te stabiliseer, het op Donderdag 12 Maart in wanorde geëindig.

Die spesiale raadsvergadering, wat ingevolge Artikel 154 van die Grondwet byeengeroep is om die munisipaliteit te ondersteun en te versterk, moes laat vaar word nadat dit twee keer deur raadslede onderbreek is.

Die krisis het sy ontstaan in Thapelo Matlala, stadsbestuurder se skorsing verlede jaar.  Die munisipaliteit het gefaal om die tugproses binne drie maande ingevolge regulasies af te handel, waarna Matlala wou terugkeer werk toe. Sy kantoorslotte was egter verander, en hy is hof toe met ʼn aansoek om terug te keer werk toe. 

Matlala het reeds twee aansoeke teen hulle en die munisipaliteit gewen waarin die hof sy skorsing  as onreëlmatig beskryf en ter syde gestel het.

Dipuo Peters, speaker en Martha Bartlett, burgemeester moes later in die hof toegee hul tweede poging om hom te skors en ‘n waarnemende stadsbestuurder aan te stel was onreëlmatig. Die hof het die twee ampsdraers met kostebevele in hul persoonlike hoedanigheid gestraf. Die twee ampsdraers het hul appèlaansoek teruggetrek, net om dit met ʼn nuwe een op te volg sodat Matlala nie kan terugkeer werk toe nie.

LEES OOK: Sol Plaatje-krisis: Opposisiepartye wil ondersoek teen speaker laat doen

In die tydperk het strydende raadslede verskeie spesiale raadsvergaderings ontwrig wat nie afgehandel kon word nie. Opposisiepartye is veral gekant teen Peters en Bartlett se aanhoudende duur regsaansoeke, wat sommige raadslede aanvoer sonder die raad se goedkeuring geskied.

Vass het sy “uiterste teleurstelling” uitgespreek oor die optrede van sekere raadslede wat tot die ineenstorting van die vergadering gelei het.

Ná die ontwrigtings het die LUR ‘n geslote sessie van sowat ‘n uur met die politieke swepe van die onderskeie partye gehou. Hier het die swepe uitdagings en voorgestelde oplossings voorgelê om die bestuur en administratiewe leierskap van die munisipaliteit te stabiliseer.

Raadslid Chris Whittaker van die DA het sy spyt uitgespreek dat die volle raad nie kon deelneem nie, maar het in ‘n video-verklaring gesê hulle hoop op ‘n positiewe uitkoms om stabiliteit te bring.

Die krisis word egter deur diep politieke verdeeldheid vererger.

Johan Smit, VF Plus-raadslid, sê hulle herhaal hul eis vir ‘n amptelike ondersoek na Peters, weens haar beweerde aandeel in die ontstaan van die krisis.

Volgens die VF Plus wentel die hele debakel om ‘n magstryd tussen Peters en Bartlett aan die een kant, en Matlala aan die ander kant.

Dié party voer aan dat die munisipaliteit se regskoste om Matlala te skors, en die herhaalde appèl-aansoeke teen sy hofsuksesse om terug te keer werk toe, reeds miljoene rand beloop.

LUR Vass het beklemtoon dat Sol Plaatje, as die grootste munisipaliteit in die Noord-Kaap, ‘n voorbeeld van goeie regering en dienslewering moet wees.

“Die mense van Sol Plaatje verdien ‘n stabiele, funksionele en bekwame munisipaliteit… politieke verskille mag nooit ten koste van die inwoners gaan nie,” het Vass gesê.

Die LUR sal nou die insette van die swepe oorweeg en later ‘n verslag oor die volgende stappe verskaf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article