Noordkaap Bulletin

TWYFELHOEKIE | Hou nog ‘n bietjie aan, jy is taaier as wat jy dink

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

As daar nou een ding is waaroor sportkenners en sielkundiges saamstem is dit dat die liggaam en die siel langer kan aanhou as wat ‘n mens dink.

Daardie ou bekende uitdrukking: Hou nog net ‘n bietjie…

Eintlik is ‘n mens verstom as jy sien hoe ver ‘n mens verby die punt kan gaan waar jy gedink het jy lankal gedaan is, lankal moeg is en net wou ophou. Die lank en die kort is: moenie te gou ophou nie. Daar is altyd nog ‘n tree, daar is altyd nog ‘n dag, daar is altyd ‘n bietjie hoop ekstra, ‘n bietjie krag ekstra, ‘n pad vorentoe en ‘n oplossing vir die grootste krisis.

Wanneer mense moeg raak, word ophou makliker as aanhou. Wanhoop word makliker as hoop. Terugstaan word makliker as vorentoe gaan. Sit word makliker as loop.

Daar is natuurlik baie redes voor, maar dit is asof baie mense moeg geword het vir die lewe.

Moeg vir probeer, moet vir aanhou, moeg vir antwoorde soek, moeg vir met mense sukkel, moeg seergekry, moeg swaargekry, moeg, sommer net moeg.

Wanneer jy so moeg is, is dit moeilik om te dink dat ‘n mens lewe in oorvloed ontvang het, dat opstaan ‘n vreugde is. Ons vergeet maklik die wonders om ons.

Ons moegheid verdof ons visie. En dan wil ons net handdoek ingooi. Die lewe is te kosbaar om handdoek in te gooi. Die lewe is te duursaam om goedkoop daarmee te handel. En ons is te taai om sommer net in te gee.

Daarom – onthou dat jy verder kan gaan as wat jy dink, meer druk kan hanteer as wat jy glo en baie meer krag het as wat jy voel jy het.

En wanneer ons sien mense om ons raak moeg en sak uit, laat ons mekaar herinner aan hoeveel genade ons elke dag ontvang, hoe wonderlik die lewe is.

Laat ons aanhou en aanhou, al is ons moeg.

  • Vir nog rubrieke en meningstukke, lees hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article