Weslander

Duur kameratoerusting op Langebaan gesteel by KykNet-filmspan

Die filmspan wat aan Lekker & Goed van Carmen Niehaus werk, is op Langebaan besteel. Foto: DSTV
Die filmspan wat aan Lekker & Goed van Carmen Niehaus werk, is op Langebaan besteel. Foto: DSTV Credit: Picasa

LANGEBAAN – Groot was ’n produksiespan se skok toe hulle Woensdag 4 Maart in hul verblyfplek in Shark Bay, Langebaan, wakker word en besef dat hulle duur kameratoerusting gedurende die nag gesteel is.

Wilmer Muller, woordvoerder van Homebrew Films wat die kykNET-reeks Lekker & Goed vervaardig, sê lede van die produksiespan is gelukkig almal ongedeerd ná die voorval.

Carmen Niehaus is die aanbieder van Lekker & Goed wat deur Homebrew Films vervaardig word. Foto: DSTV
Carmen Niehaus is die aanbieder van Lekker & Goed wat deur Homebrew Films vervaardig word. Foto: DSTV

Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie, het inbrekers vroeg die oggend stilletjies by die villa ingebreek en spesifiek die duur toerusting gesteel.

Daar is moontlik ’n verband tussen dié inbraak en verskeie ander in die buurt waartydens vensters met raam en al verwyder is om toegang tot die wonings te kry. Die Langebaan-polisie ondersoek verskeie sake van huisbraak.

Volgens Muller kon die span gelukkig vinnig alternatiewe toerusting van Kaapstad af laat kom sodat die verfilming sonder onderbreking kon voortgaan. “Ons is baie dankbaar dat niemand beseer is nie. Die voorval het geen vertragings veroorsaak nie, en produksie het sonder onderbreking voortgegaan.”

Hy het benadruk dat die produksiespan steeds welkom in Langebaan voel en die gemeenskap se voortdurende ondersteuning waardeer.

Hulle is besig met die produksie van die tweede seisoen van Lekker & Goed, wat op Maandag 23 Februarie begin het en na verwagting tot Woensdag 11 Maart sal duur. Al 13 episodes word in die Shark Bay-omgewing van Langebaan geskiet, net soos die eerste seisoen in 2024.

Carmen Niehaus, ’n bekende kosskrywer en televisie-persoonlikheid, is die aanbieder van Lekker & Goed. Dieéreeks, vervaardig deur Homebrew Films, is die eerste keer in 2025 op kykNET uitgesaai en keer nou terug vir ’n tweede seisoen wat op 9 April begin. In die program deel Niehaus resepte en verwelkom bekende gaste soos Danie du Toit, Rolanda Marais, Yolani Abrahams, Mila Guy en Ewan Strydom.

Herman Lensing, bekroonde kosskrywer, televisiepersoonlikheid en redakteur van SARIE KOS, is deel van die vervaardigingspan van Lekker & Goed en dien as kosvervaardiger van die reeks. Lensing is een van die produksiespanlede wat in die Shark Bay-blyplek tuisgegaan het waar die inbraak plaasgevind het.

Muller het gesê daar is intussen ekstra sekuriteitswagte aangestel om saans by die verblyfplek diens te doen om die veiligheid van die span en toerusting te verseker.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article