Die eerste gedrukte uitgawe van die nuwe nasionale Afrikaanse weekblad, Die Papier, sal Vrydag 6 Maart landwyd by winkels beskikbaar wees.
Deur die webwerf papier.co.za te besoek sal lesers ook vanaf Vrydagoggend af ’n digitale e-koerant kan koop om aanlyn deur te blaai.
Novus Media, moedermaatskappy van Novanews, het die nuwe publikasie in November 2025 aangekondig.
“Ons is reeds opgewonde oor die eerste uitgawe,” sê Barnard Beukman, redakteur van Die Papier.
“Die koerant sal saam met alle betrokkenes en veral die lesers oor die volgende weke, maande en jaar uitgebou word as ’n belangrike bate vir die Afrikaanse lesersmark,” aldus Beukman.

Geleentheid vir gedrukte media
André van der Veen, hoof-uitvoerende beampte van Novus Holdings, sê daar is steeds ruimte vir gedrukte publikasies in gefokusde markte. “Vir baie Afrikaanse lesers is die formaat van die koerant onmiskenbaar, en ons glo Die Papier gaan breed aanvaar word.”
Die Afrikaanse mark in Suid-Afrika tel meer as sewe miljoen mense. Esmé Smit, direkteur van Novus Media, sê Die Papier is die maatskappy se eerste nasionale nuuskoerant. “Dit neem gehalte Afrikaanse joernalistiek na ‘n nuwe vlak, met ‘n bereik wat al die provinsies insluit.”
Inhoud
Die Papier sal fokus op nuus, gemeenskapsnuus, sake- en sportnuus, asook kultuur- en leefstylinhoud. Beukman sê jonger lesers sal ook ‘n tuiste vind, aangesien die publikasie formate en inhoud aanbied wat aan hul behoeftes voldoen.
Novus Media, wat in 2024 gestig is, bedien reeds miljoene lesers landswyd met 21 gemeenskapstitels en publikasies soos Rooi Rose, Soccer Laduma en Kick Off, asook digitale platforms soos Novanews.co.za.
Smit sê 6 Maart beteken ‘n nuwe hoofstuk vir Afrikaanse drukmedia. “Ons sien uit om kollektiewe stories te vertel, burgers te bemagtig, en ‘n platform te bou waar gemeenskappe sinvol aan die demokratiese gesprek deelneem.”
Lesers wat tuisaflewering van Die Papier verkies, kan ‘n epos stuur aan diepapierintekening@onthedot.co.za of bel 087 353 1291.
LEES OOK: Die Papier beloof nuwe lewe vir Afrikaanse drukmedia






You must be logged in to post a comment.