Die toneel waar die voorval plaasgvind het.

HOPEFIELD – ‘n Familie is in rou gedompel ná die tragiese dood van twee jong tieners, twee kleinneefs, nadat ‘n sandhoop waar hulle gespeel het, inmekaargesak het en hulle versmoor het.

Volgens Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie, het die voorval omstreeks 15:00 op Maandag 2 Maart op die hoek van Falcon- en Duineveldstraat, Hopefield, plaasgevind.

Volgens die familie het die kleinneefs Elceno Linnerd (13) en Cyrano Linnerd (14) altyd saam gespeel en van kleins af ‘n hegte band gehad.

Die seuns word beskryf as vriendelike en lewendige kinders wat lief was vir geselsies aanknoop.
Al twee seuns het die noodlottige dag hul huise verlaat om te gaan speel, en die doodstyding was die laaste ding wat die familie verwag het.

Wyle Elceno Linnerd.

Volgens Magrieta Diedrichs, Cyrano se tannie, het die kinders nie eintlik gereeld by die sandhoop gespeel nie.

Elceno en Cyrano was saam met ‘n tienjarige maatjie by die sandhoop toe dit inmekaargesak het.

Helfrich bevestig dat die twee kleinneefs vasgekeer was onder die sand waarop die vriend om hulp gaan soek. “Lede van die gemeenskap het vinnig probeer help om die seuns te red. ‘n Voorlaaier van die munisipaliteit het probeer om die sand versigtig weg te kry en die gemeenskap het verder gegrou, maar dit was te laat.”

Wyle Cyrano Linnerd.


Diedrichs vertel dat sy Cyrano by die huis sien wegstap het met ‘n graaf. Sy het aangeneem hy gaan inwoners help met tuinwerk, soos wat hy altyd gedoen het.

Dit het egter later bekend geraak dat die drie seuns die graaf gebruik het om ‘n tonnel te grawe waarna die sand inmekaargesak het.

Nayma Linnerd, Elceno se ma, het op die toneel gekom en gehoop haar kind lewe nog. Sy het nog met hom by die huis gesels en nie geweet dit sou die laaste keer wees dat sy haar seun sien nie.

“My hart voel swaar. Ek moet nog deur die pyn werk,” het sy gesê.

Volgens Helfrich is ‘n geregtelike nadoodse ondersoek geopen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article