BLOEMFONTEIN – Boere wat daartoe in staat is, moet toegelaat word om hul eie diere teen bek-en-klouseer te beskerm.
Dit is die kern van die hofsaak wat Vrystaat Landbou (VL) saam met die Suider-Afrika Agri-inisiatief (SAAI) en Sakeliga nou in die Hooggeregshof in Pretoria teen die Minister van Landbou, die Departement van Landbou en die Direkteur van Dieregesondheid bring.
Francois Wilken, president van VL, sê hierdie aansoek vorm deel van ’n breër hersieningsproses waarin die wettigheid, rasionaliteit en grondwetlikheid van sekere bek-en-klouseer-maatreëls, veral rondom entstof, bevraagteken word.
“Ons neem met ernstige kommer kennis van die voortgesette verspreiding van bek-en-klouseer (BKS) en die verwoestende ekonomiese impak wat dit op veeboere en die breër landbouwaardeketting het,” sê Wilken.
“Die situasie bedreig nie net individuele produsente se bestaansvermoë nie, maar ook voedselsekerheid, werksgeleenthede en landelike ekonomie,” sê Wilken.
Die kern van Vrystaat Landbou se standpunt is dat boere nie verhinder moet word om hul eie diere te beskerm waar hulle die vermoë het om dit wettig en verantwoordelik te doen nie. “In ’n tyd waar die staat self kapasiteitsuitdagings erken en die siekte reeds wyd versprei is, is dit onaanvaarbaar dat privaat inisiatief en hulpbronne effektief geblokkeer word.”
Wilken sê dat dié benadering, wat die invoer en beskikbaarheid van entstof beperk en boere verhoed om parallel met die staat op te tree, die krisis vererger en die risiko van verdere verliese verhoog. ’n Model waarin die staat, die privaatsektor en produsente gesamentlik optree, is noodsaaklik om die pandemie doeltreffend te bestuur.
“Ons doen ’n beroep op die regering om ’n inklusiewe, wetenskaplik gefundeerde en prakties uitvoerbare strategie te volg wat alle beskikbare kapasiteit mobiliseer om die verspreiding van BKS te bekamp,” sê Wilken.
Wilken sê VL sal voortgaan om die situasie noukeurig te monitor en sy lede te ondersteun in die beskerming van hul diere en bedrywighede binne die raamwerk van die reg.





