So gebeur dit dat ons reg en gereed is vir Kleinsus se atletiek. Vroeg op, alles gepak. Hierdie atletiek-seisoen staan vinnig einde se kant toe. Almal is opgewonde.
Party het al 04:00 opgestaan om betyds te wees en ander bly net om die blok, maar vanoggend, wanneer ons wegspring met die dag, is almal gereed.
‘n Mooi, oop, pragtige dag.
Sommer net ná die opening en die verwelkoming word die wolke donkerder en lyk dit of dit later vandag dalk ‘n bietjie kan reën. Hierdie jaar reën dit hier by ons nogal maklik.
Dit trek toe en maak die aarde heerlik nat. ‘n Mens dink elke keer wanneer dit so neerval aan die boere en die streke waar dit so intens droog is en waar gesmag word na reën op die regte tyd.
Sommer binne ‘n halfuur nadat die eerste skoot vir die eerste nommer geklap het, is dit duidelik dat ons op hierdie dag papnat gaan reën. En dit is ook so.
Binne ‘n halfuur daarna.
Voordat die tweede blok uitgeroep kan word, stortreën dit. Nie baie wyd nie, ‘n klein kolletjie, maar met strome water wat die baan oorstroom is dit duidelik dat geen atletiek vandag gaan plaasvind nie.
Dit voel so vreemd.
Ry ‘n mens ‘n paar tree weg, is dit kurkdroog van daar tot by die huis, maar daar is alles waternat en dit is duidelik – hierdie atletiekdag is nie bestem om te wees nie.
Dikwels werk dinge anders uit as wat ‘n mens beplan. Soms loop ‘n dag net anders, ‘n maand, ‘n jaar, ‘n verhouding, ‘n besigheid, ‘n vriendskap, ‘n geleentheid…
In verantwoordelikheid moet ‘n mens doen wat jy moet – oefen, voorberei, hard werk, beplan, verantwoordelik dink – alles doen wat jy moet, maar ‘n mens moet ook leer in die lewe om te aanvaar dat dinge soms anders loop.
Anders as wat jy beplan. Maak vrede met dinge wat anders loop as wat jy dit sou wou hê.


