Wyle Matthew Cheswin Baartman (8).
Wyle Matthew Cheswin Baartman (8).

KLAPMUTS – Nadat die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) bewerings ontken het dat die agtjarige Matthew Baartman doodgeskok is by Klapmuts Primêr, het die polisie Woensdag 18 Februarie bevestig die graad 1-leerder is dood weens ‘n elektriese skok.

Matthew is op Vrydag 23 Januarie na die plaaslike kliniek, reg oorkant sy skool, gehaas nadat hy by die skool seergekry het. Aanvanklike gerugte was dat die seun doodgeskok is terwyl hy besig was om water te drink.

Dit was ook wat aanvanklik aan Sonja Baartman, sy ma, gesê is toe sy die oggend by die Klapmuts-kliniek opdaag.

Sedertdien het die WKOD egter volgehou dat daar geen bewyse gevind was dat die seun doodgeskok het nie.

LEES OOK: Vrae oor Klapmuts-seun (8) se dood

Gemeenskapslede het Vrydagoggend (23 Januarie) by die Klapmuts-kliniek, reg oorkant die plaaslike laerskool, byeengekom ná die skielike dood van 'n agtjarige leerder. Foto: Yaël Malgas
Gemeenskapslede het Vrydagoggend (23 Januarie) by die Klapmuts-kliniek, reg oorkant die plaaslike laerskool, byeengekom ná die skielike dood van ‘n agtjarige leerder. Foto: Yaël Malgas

Kerry Mauchline, ‘n WKOD-woordvoerder, het Maandag 16 Februarie aan Eikestadnuus gesê ‘n assesseringspan van die departement, wat ‘n elektriese kontrakteur ingesluit het, was dieselfde dag van Matthew se dood op die skoolperseel.

“Geen bewyse kon gevind word wat die bewering [dat Matthew geskok is] kon staaf nie en die skool het die volgende Maandag heropen,” het Mauchline gesê.

Die skoolgemeenskap was egter nooit tevrede met die WKOD se uitlatings nie en eis sedertdien antwoorde oor hoe Matthew dan gesterf het.

Lesse nou in saal

Intussen het Eskom vandeesmaand elektrisiteit by die laerskool afgeskakel. Eikestadnuus het na die kragverskaffer uitgereik om uit te vind hoekom die toevoer na die skool afgeskakel is, maar het geen reaksie op navrae ontvang nie.

Mauchline het op haar beurt gesê die afskakeling deur Eskom was gedoen sonder ‘n verduideliking aan die department.

Sy het bevestig ondersoek sal ingestel word, veral ook omdat die afskakeling van die elektrisiteit verskeie klaskamers ontoegangklik gemaak het.

Graad R- en graad 1-leerders se klasse is vroeër vandeesmaand na die saal geskuif waar die leerders nou onderrig ontvang. Vyftien klasse is glo nou ontoeganklik met sekere klasse wat slegs op ‘n rotasiebasis by die skool is.

Verskeie klasse van Klapmuts Primêr kry onderrig in die skoolsaal.
Verskeie klasse van Klapmuts Primêr kry onderrig in die skoolsaal.

‘Niemand vervolg’

Veronica Galant, ‘n gemeenskapsaktivis van Klapmuts wat sedert Matthew se dood die familie bystaan, sê die gemeenskap is verbaas deur die amptelike bevestiging van Matthew se oorsaak van dood.

Sy het gesê die bevestiging dat Matthew geskok het is veral verbasend, omdat die department voet by stuk oor die teendeel gehou het.

‘n Woordvoerder van Klapmuts-polisie, sers. Madilyn Dombas, het by navraag gesê na afloop van die lykskouing en nadoodse ondersoek is gevind Matthew is doodgeskok.

Sy het bygevoeg die polisie het nie planne om enigiemand te vervolg weens die uitslag nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article