BLOEMFONTEIN – Vanjaar gaan die multi-talentvolle rolstoelatleet Martin Ferreira (59) deelneem aan die Outeniqua-rolstoel-uitdaging (OCC26) ter voorbereiding vir die nasionale kampioenskap vir mense met gestremdhede.
Hoewel hierdie Bloemfonteiner al talle kere aan die OCC en ander wedrenne deelgeneem het, sal hy vanjaar ‘n nuweling wees in die Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskap vir Mense met Gestremdhede (SASAPD) in die nommers 5 000m en 8 000m in sy ouderdomsgroep.
Die kampioenskapsbyeenkoms vind van 27 tot 31 Maart in Stellenbosch plaas.

Ferreira sê die Vrystaatse Sportvereniging vir mense met Gestremdhede het hom gekontak oor deelname aan die nasionale kampioenskap.
“Dit het vir my na ‘n lekker uitdaging geklink. Ek het toe in Oktober aan die proewe in Bloemfontein deelgeneem, waar ek ingesluit is in die Vrystaatspan vir die kampioenskap. Ek het nog nie voorheen aan atletieknommers in dié kampioenskap deelgeneem nie.”
Lees meer oor Vrystaatse atlete op verlede jaar se SASAPD.
Die OCC26 vind op 21 Februarie in George plaas.
“Dit is ‘n wonderlike geleentheid,” vertel Ferreira. “Rolstoelatlete van oor die land heen neem aan die wedren deel. Dit is soos die Comrades and Argus, met ‘n lekker atmosfeer vir deelnemers.”
Die Carpe Diem-skool in George sal die middelpunt vorm van die geleentheid waarin atlete kan deelneem aan ‘n vol marathon (42,2km), halfmarathon (21,1km), of die 10 km- en 5 km-roete. Die kaskarwedren van 5km bied ‘n wonderlike geleentheid vir ondernemings om deel te neem en hul ondersteuning vir die OCC te toon.
Ferreira sê hy gaan vanjaar aan die 10km-wedren deelneem om aan sy spoed te werk.
Oor die jare het deelnemers aan die OCC die room van internasionaal bekroonde rolstoelwedren-deelnemers ingesluit, soos marathonwenner Ernst van Dyk en Paralimpiese podiumwenner Pieter du Preez.
Ander gereelde OCC-deelnemers, soos George se plaaslike Shaun Butler – voorsitter van die Gestremde-padwedrenstigting (DRRF) – het nie net die kuns van rolstoelwedrenne bemeester nie, maar het ook Mzansi deur sy prestasies in die liggaamsbou-sport op die wêreldkaart geplaas.
Ferreira sê hy neem meer vir die liefde van die saak deel en is nie daar om rekords nader te hark nie.
Op ‘n praktiese noot het ek geleer dat die begin van die resies van uiterste belang is – daardie eerste paar meter is moeilik; en om in te haal wanneer almal reeds op spoed is, is ‘n uitdaging.
“Voor die ongeluk wat my mobiliteit 25 jaar gelede verander het, terwyl ek in PE (nou Gqeberha) gestudeer het, was golfski my eerste liefde. Toe my loopbaan my weg van die kus geneem het, kon ek nie met my passie vir watersport voortgaan nie.”
Gelukkig het toevallige kontak met die Durban-gebaseerde Made For More – met sy missie om mense met gestremdhede deur gemeenskap en sport in te sluit, toe te rus en te bemagtig – sy herverbintenis met die see verseker.
“Made For More neem mense na die see vir rehabilitasieterapie, so ek het betrokke geraak en is ingesluit in die 2022-wêreldreeks-span wat na ’n internasionale kampioenskapsbyeenkoms in Kalifornië genooi is. Die span het uit 14 atlete in verskillende kategorieë bestaan, soos siggestremdes, amputeerdes, volledig verlamdes en branderplankry met ondersteuning.
“Ons Suid-Afrikaanse span het onder die topvyf van 28 deelnemende lande geëindig; met inagneming van die hoë standaard in daardie afdeling, was dit ’n prestasie waarop die land regtig trots kon wees.”
Toe hy sy eerste OCC in 2019 aangepak het, het hy reeds een 10km- en drie 21 km-roetes in sy wedrenstoel voltooi, aangedryf deur “push rims” in plaas van die meer gewilde keuse van hand-fietsry. As ‘n E12-parapleeg (kategorie 54) sê Ferreira dat hy dit vir oefening en plesier doen, eerder as om dit as ‘n kompetisie-oefening te beskou.
“Ek doen kort oefen-sessies van 3km tot maksimum 8km ter voorbereiding. Die OCC bewys dat jy eintlik baie meer kan doen as wat jy dink, so die geestelike aspek is uiters belangrik.
“Op ‘n praktiese noot het ek geleer dat die begin van die resies van uiterste belang is – daardie eerste paar meter is moeilik; en om in te haal wanneer almal reeds op spoed is, is ‘n uitdaging.”
Die OCC is ’n belangrike viering van die prestasies van mense met verskillende vermoëns en die oorwinning van uitdagings in die gees van samehorigheid en samewerking. Dit is al vir baie jare ’n gunsteling-gebeurtenis op die Suid-Afrikaanse sportkalender, en deelnemers word nou aangemoedig om aanlyn in te skryf.
Op vanjaar se Ironman-uitdaging in Mosselbaai het Paul Kaye soos volg gesê: “Die sukses lê nie daarin om die eindstreep oor te steek nie; die reis is om by die beginstreep uit te kom.” Dit is nog meer waar vir OCC-deelnemers.
Rig navrae oor die resies aan dyndev@mweb.co.za of skakel OCC-wedrendirekteur Alewijn Dippenaar by 082 457 5675 vir bykomende inligting.






You must be logged in to post a comment.